Kaylene se visier is op Tokio gerig

Kaylene Corbett. Foto: Reg Caldecott.

Kaylene Corbett het een doelwit voor oë wanneer die Afrikaspele hierdie week begin. En dit is om vinniger as die Olimpiese kwalifiserende tyd in die 100 m- en 200 m-borsslagitems te swem.

Hoewel sy in haar noppies met ’n goue medalje sal wees, is haar visier suiwer op Tokio 2020 gerig.

Tydens die pasafgelope Wêreld Studente Spele het Corbett op drie verskillende geleenthede vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer. Sy sal egter elke moontlike geleentheid met beide hande wil aangryp om vir die Tokio-skouspel te kwalifiseer.

Boonop het haar tye ook byna met elke byeenkoms gedurende die afgelope jaar verbeter.

Sy het die seisoen met ’n persoonlike beste tyd van 2:27.90 minute in die 200 m-borsslagitem afgeskop. Deesdae is haar beste tyd ’n spoggerige 2:24.18 minute; die Olimpiese kwalifiserende tyd is ’n skilpad-stadige 2:25.52 minute.

Haar afrigter by die Universiteit van Pretoria, Rocco Meiring, het gesê dinge loop nie heeltemal volgens plan nie: Hy het nie verwag sy gaan nou al so vinnig swem nie! Sy was veronderstel om eers gedurende volgende jaar se Suid-Afrikaanse Kampioenskap vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer.

“Ek het maar eers verlede Augustus met Kaylene begin werk. Een van die aanvanklike probleme was dat sy baie op haar uithouvermoë gedurende oefensessies gekonsentreer het,” het Meiring gesê.

“Dit was iets wat gekorrigeer moes word, want hoewel uithouvermoë baie belangrik vir ’n swemmer is, moes ons ook aan haar spoed gewerk het.”

Hy voel dat Corbett oor die unieke vermoë beskik om te presteer wanneer dit saak maak.

“Al wat ek gedoen het, is om haar bietjie meer touwys te maak oor hoe om die eerste 100 m vinniger te swem. Niemand kan vir haar passie en vasberadenheid leer nie – en daarvan het sy emmersvol.”

Volgens Corbett was een van haar swemhoogtepunte om saam met Tatjana Schoenmaker in die finaal te swem.

“Dit was basies ons twee teen die wêreld. Ons het baie grappies vooraf gemaak en dit het beslis met die senuwees gehelp,” het Corbett gesê.

“Ná die tyd was dit ongelooflik toe ons besef het wat ons bereik het. Tatjana was die eerste Suid-Afrikaanse vroueswemmer om ’n medalje by die Wêreldkampioenskap in te palm en ek was die agtste beste ter wêreld. Die vreugdetrane het behoorlik gerol!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AI AI AI ·

Baie geluk met die prestasies. Jul hou SA Swem se naam hoog!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.