Kenners vrees Federer se gloriedae is getel

Roger Federer. Foto: Kenzo Tribouillard/AFP.

Roger Federer mag dalk nie weer ’n mededingende tenniswedstryd speel nie. Só meen Boris Becker en Greg Rusedski nadat die Switserse meester aangekondig het dat hy ’n derde knieoperasie moet ondergaan.

“Dit is ’n moeilike tyd wat voorlê, maar terselfdertyd weet ek dat dit die regte ding is om te doen want ek wil fiks en gesond wees. Dan wil ek ook vir myself ’n tikkie hoop gee om weer ’n terugkeer tot die sport te maak,” het Federer vroeër gesê.

En volgens Becker, ’n voormalige wêreldno. 1-speler, is dit baie moeilik om op 40-jarige ouderdom voldoende van ’n besering te herstel.

“Die groot vraag is of hy weer aan toernooie sal kan deelneem; ek dink net hy kan daardie vraag beantwoord. Die res van sy lewe lê nog voor en tennis is eintlik amper ’n bysaak. Hy het al soveel titels gewen en hy hoef niks meer aan enigiemand te bewys nie,” het die 53-jarige Duitser gesê.

Federer kon die afgelope twee jaar aan net ’n handvol toernooie deelneem en hy het onder meer vanjaar se Amerikaanse Ope en die Olimpiese Spele misgeloop.

“Dalk sien ons hom vir oulaas op Wimbledon, wie weet? As hy nie Grand Slam-titels kan wen nie, gaan hy waarskynlik nie terugkom nie,” het Rusedski, ’n voormalige Britse no. 1-speler, gesê.

Federer het self erken dat hy nie meer so beweeglik op die baan is nie – hy weet wat om te doen, maar sy lyf wil net nie meer saamspeel nie.

Volgens Becker is die era van Federer, Rafael Nadal en Novak Djokovic ook iets van die verlede.

“Tussen hulle drie is Novak ongetwyfeld die bittereinder – hy het reeds ’n ongelooflike tennisjaar agter die blad. Ek hoop egter van harte dat Roger weer sterk en gesond sal word.”

Federer is staande toegejuig toe hy vroeër vanjaar op Wimbledon uitgeskakel is. Toe het almal bespiegel of dit sy laaste wedstryd op Wimbledon was. Nou wonder ondersteuners of dit nie dalk die laaste mededingende tweestryd van sy loopbaan was nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.