Kevin mik na titel-kishoue

Kevin Anderson. Foto; AP Photo/Seth Wenig

Die afgelope 18 maande moes nie van die lekkerste vir Suid-Afrika se voorste tennisspeler, Kevin Anderson, gewees het nie.

Want te midde van die Covid-19-pandemie het die 34-jarige hemelbesem met knieprobleme gesukkel wat hom ’n geruime tyd op die kantlyn gehou het. Hy was sedert Februarie 2019 by net ses toernooie in aksie.

Boonop het sy ranglysposisie ook daaronder gely: Ná sy sukses by die Amerikaanse Ope (2017) en by Wimbledon (2018) toe hy vyfde beste speler ter wêreld was, is hy nou 123ste op die ATP-ranglys gekeur.

Maar te midde van al die terugslae is hy vasberade om nie net suksesvol tot die baan terug te keer nie, maar ook om titels te wen.

“Ek sal baie tevrede wees as ek in 2021 ’n Grand Slam-kampioen is met ’n paar ATP-titels agter my naam. Dit is waarna ek mik en ek sien daarna uit om myself te druk om sulke geleenthede met albei hande aan te gryp,” het hy vir ATP Tennis Radio gesê.

In die verlede het Anderson gereeld uitstekende tennis in die eerste rondes van ’n belangrike toernooi gespeel, net om in sleutelwedstryde alles weg te gooi.

Dit het egter begin lyk asof hy die drukkoker-wedstryde kan hanteer, veral as jy na die Wimbledon-kwarteindstryd van 2018 kyk, toe hy vir Roger Federer op skouspelagtige wyse uitgeskakel het.

Kevin Anderson. Foto: AP Photo/Ben Curtis

Anderson was in daardie wedstryd met twee stelle agter, maar het verbete terugbaklei om die kragmeting met 2-6, 6-7,7-5, 6-4 en 13-11 te wen.

Die Suid-Afrikaner word deur talle kenners as een van die hardwerkendste spelers op die internasionale verhoog beskou; dermate dat sy afrigter, Jay Bosworth, voel dat hy meer op én van die baan moet ontspan.

Hoewel Anderson aanvanklik met dié kopskuif gesukkel het, meen hy dat dit hom beslis vorentoe van hulp kan wees.

“Ek het nog altyd hard gewerk en ek wou nog altyd ’n beter speler geword het, maar ek moet ook leer om vertroue te hê in my vermoë, asook die voorbereidingswerk wat ek reeds ingesit het.

“Hopelik beteken die afgelope tyd se rus dat ek my loopbaan met ’n rukkie kan verleng.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae