Kinders vra Hamilton oor Verstappen uit

Lewis Hamilton en Max Verstappen. Foto: Andrej Isakovic/AFP.

Jeugdjournaal, ’n Nederlandse nuusprogram vir jong mense, het kinders die geleentheid gegee om vir Lewis Hamilton vrae te vra.

Die verdedigende wêreldkampioen-renjaer het onder meer oulike vrae oor sy hond, sy wedrenvoorbereiding en Nederlandse eetgoed beantwoord. In die derde minuut van die insetsel het twee kinders hom egter gevra of dit moeilik is om teen Max Verstappen te jaag.

“Ja, natuurlik is dit,” was Hamilton se onmiddellike antwoord.

Hy het egter bygevoeg dat dit ’n taai uitdaging is om teen enige van die renjaers te jaag omdat hulle almal elite atlete is en oor ongelooflike talent beskik.

“Max is deel van ’n baie goeie span en hy is geestelik en fisiek sterker as ooit vantevore. Dit is ongetwyfeld ’n groot tweestryd, maar dit is wat die sport mooi maak.”

Die 23-jarige Verstappen het die afgelope naweek sy tuiswedren op die Zandvoort-renbaan voor ’n see van oranje ondersteuners gewen. Hy is nou weer die voorloper op die jaerspunteleer nadat Hamilton tweede oor die eindstreep gejaag het.

Tog het hul tweestryd al lelik skeefgeloop.

Verstappen se Britse Grand Prix-veldtog is in die eerste ronde kortgeknip toe hy en Hamilton om ’n draai swaarde gekruis het. Die jong Nederlander se motor het getol en hy het teen amper 290 km/h teen ’n versperring gebots.

Die Mercedes-renjaer is toe met tien sekondes gestraf omdat hy die ongeluk veroorsaak het, maar met Verstappen uit die prentjie en met Charles Leclerc wat soms met sy Ferrari-enjin gesukkel het, was hy eerste oor die Silverstone-wenstreep.

“Die straf wat opgelê is, help ons [Red Bull] glad nie en dit regverdig nie die gevaarlike maneuver wat Lewis op die baan gedoen het nie. Om sy buitensporige feesvieringe vanuit die hospitaal dop te hou dui op geen respek nie, maar ons moet aanbeweeg,” het Verstappen destyds op sosiale media gedeel.

Die aksie word die naweek in Italië hervat en F1-liefhebbers kan Sondag om 15:00 naderskuif.

  • Jaerspunteleer:
  1. Max Verstappen 224,5 punte
  2. Lewis Hamilton 221,5 punte
  3. Valtteri Bottas 123 punte
  4. Lando Norris 114 punte
  5. Sergio Perez 108 punte
  6. Charles Leclerc 92 punte
  7. Carlos Sainz 89,5 punte
  8. Pierre Gasly 66 punte
  9. Daniel Ricciardo 56 punte
  10. Fernando Alonso 46 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.