King is koningin van die potspeltafel

Amy-Claire King spog met van haar trofees wat sy as individuele speler én in spanverband gewen het.

Dit is ’n Vrydagmiddag en Amy-Claire King is by die Old Boys’ Pool Club in Gauteng. Sy neem ’n slukkie van haar Coke en bestudeer aandagtig die stand van sake op die potspeltafel voor haar, terwyl rock-musiek saggies in die agtergrond speel.

Met amperse meganiese presiesheid sink sy bal ná bal en sorg dat haar teenstander, sowel as die paar toeskouers wat om die tafel saamgedrom het, hul hande waarderend klap.

Vanjaar was ’n uitstekende jaar vir King langs die potspeltafel.

Nie net het sy saam met Suid-Afrika se vrouespan glorie op die wêreldverhoog gesmaak nie, sy het ook as individuele speler geskitter. Trouens, sy is vir die eerste keer in haar loopbaan as die Wêreldmeesterskampioen gekroon, nadat sy dié internasionale skouspel in Engeland gewen het.

“Ek speel al vandat ek sewe jaar oud is,” het die 29-jarige King aan Maroela Media gesê.

“Ons het destyds by een van my ma se vriende gebraai en ek het net begin speel. Die mense het my ma opgewonde geroep om vir my te kom kyk.”

Sedert daardie braai het haar potspelloopbaan haar na lande soos Egipte, Engeland, Letland en Marokko geneem.

Maar moenie onder die wanindruk verkeer dat sy slegs op natuurlike talent staatmaak om haar een van die wêreld se voorste spelers te maak nie – aikôna, sy oefen daagliks tussen twee en vyf ure by die Old Boys’ Club.

En anders as wat die meeste mense dink, verg dit fyn beplanningswerk om die balle met haar dodelike akkuraatheid te sink. Dit is amper soos Tetris op die ou TV-speletjies: ’n Bietjie meer breinkrag is nodig as wat jy aanvanklik dink.

Volgens King is haar grootste teenstander die Engelse speler, Amy Beauchamp.

Beauchamp is die wêreld se voorste enkelspelspeler, terwyl King die wêreld se meesterskampioen is.

Die ene konsentrasie voor sy wegtrek. Foto: Verskaf.

“Maar Amy moet op haar hoede wees, ek kom vir haar titel!” sê sy met ’n groot glimlag.

Anders as hul sokker-, rugby- of krieket-eweknieë, verdien potspelspelers nie baie geld nie. As jy die Suid-Afrikaanse kampioen is, steek jy so R10 000 in jou sak. Om ’n wêreldkampioen te wees, beteken jy kry ’n wentjek van ongeveer R60 000.

King is tans ’n voltydse potspelspeler en finansier self haar deelname aan toernooie. En dít kan, in haar eie woorde, “ ’n baie moeilike uitdaging” wees.

“My ma – met wie ek ’n besonderse band gehad het – is onlangs oorlede en ek is  besig met haar boedel. Dan het ek ’n driejarige dogtertjie, terwyl my ma voor haar dood ook ’n seuntjie aangeneem het.”

Hoewel haar ma se dood haar hard getref het, speel sy nou van die beste wedstryde van haar loopbaan, terwyl die jong span haar ook baie goed ondersteun.

“My doelwit is om nou op die kruin van die golf te bly, want hoewel dit maklik is om daar te kom, is dit ietwat van ’n groter uitdaging om daar te bly.”

Dan wil sy ook die manne ’n ding of twee by die nasionale manskampioenskap wys, terwyl sy Beauchamp se titel wil jag.

Maar waarom geniet sy potspel so baie, is die vraag waarmee die onderhoud afgesluit word.

“Wel, die antwoord is eintlik baie eenvoudig. In 22 jaar het ek nog nóóit dieselfde wedstryd twee keer gespeel nie; elke kragmeting is anders. En dit hou my op my tone!”

Talentvol en ambisieus: Amy-Claire King het die potspelwêreld aan haar voete.

Sy – en haar nasionale spanmaats – maak vir Suid-Afrika trots.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

se maar net ·

wens jou alle voorspoed toe gee die manne n pak en vat die titel by beauchamp

Michelle ·

Amy, you are as strong as your Mother and she would be extremely proud of you!! Tomorrow (15 Nov) seven years ago your mom helped bring my baby girl into this world. Blessed to have had her as a midwife. Well done girl

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.