Kishou-kartetse van 199 km/h doen die ding vir Harris

Suid-Afrika se Lloyd Harris. Foto: ANA.

Suid-Afrika se opkomende tennisster, die 22-jarige Lloyd Harris, het na die halfeindstryd van die Adelaide International-toernooi deurgedring.

Harris het Spanje se Carreno Busta (nommer 30 in die wêreld) met 6-3 en 6-3 geklop. Hy sal nou teen Amerika se Tommy Paul te staan kom.

Die jong Kapenaar het slegs sewe punte op sy afslane afgestaan en die Spanjaard het geen antwoord op sy kishou-weerligstrale van 199 km/h gehad nie.

Harris was 99ste ter wêreld vóór die toernooi, maar teen Maandag was hy 91ste op die wêreldranglys – ’n prestasie wat vir ’n groot glimlag gesorg het.

“Ek voel dat ek soms baie goed gespeel en ’n paar skitterende spelers uitgeskakel het. Ek speel uiteindelik soos wat ek altyd wou speel en wil graag hierop voortbou,” het Harris gesê.

Die Suid-Afrikaner sien uit na die halfeindstrydontmoeting met Paul en meen hy kan dit nie bekostig om konsentrasie gedurende die wedstryd te verloor nie.

Australië is een van Harris se gunstelingplekke. In die afgelope ATP-beker het hy Nicolas Jarry geklop en goed teen Dusan Lajovi en Gilles Simon vertoon.

“Om die jaar met drie lekker wedstryde in die ATP-beker te begin het my beslis baie gehelp. Dit het wondere vir my selfvertroue gedoen en ek pluk beslis nou die vrugte daarvan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anda le Roux ·

Lloyd gaan beslis een van SA se beste tennissterre word, hou hom maar dop. Hy het gevaarlike houe wat enige teenstander kan troef. Selfs Federer het teen hom gesukkel om te wen. Hoop jy wen in Adelaide!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.