Klei-katastrofe vir Novak

Novak Djokovic moes vroeg die aftog in Monte Carlo blaas. Foto: Valery Hache/AFP.

Novak Djokovic se kleibaanseisoen het op ’n rampspoedige wyse begin toe hy in sy openingswedstryd van die Monte Carlo-meesterstoernooi met 6-3, 6-7 en 6-1 teen Alejandro Davidovich Fokina vasgval het.

“Ek het glad nie van die derde stel gehou nie. Ek was moeg; my tenk heeltemal leeg,” het ’n verslae Djokovic ná die afloop van die wedstryd gesê.

“Om eerlik te wees, ek kon later glad nie meer by hom kers vashou nie en elke punt was ’n uitdaging. Dit is ’n gevoel wat ek nie geniet nie. Wanneer ’n mens eers só op ’n kleibaan begin voel, dan is dit neusie verby met jou.”

Dit was slegs die wêreld se no. 1-speler se tweede toernooi van die jaar nadat sy inentingstatus hom uit ’n paar groot toernooie gehou het.

Al het die Australiese Ope-fiasko nie sy loopbaan heeltemal ontspoor nie, is daar tog dae wanneer twyfel na aan die oppervlak is.

“Soms is dit iets waarmee ek op ’n daaglikse grondslag worstel – iets wat ek nog nooit vantevore ervaar het nie. Ek wil dit egter as motivering vir die komende toernooie gebruik.”

En gister het twyfel ’n meer fisieke baadjie aangetrek.

“Ek het geglo dat ek met ’n terugvegpoging vorendag sou kom om die wedstryd te wen – selfs al was daar ’n paar dinge wat teen my getel het – maar ek was net glad nie op my beste nie en ek moes twee keer harder as normaalweg werk. ”

Volgens Djokovic het hy vrede met sy lot gemaak – die Franse Ope is immers die groot doelwit.

“Ek moet die nederlaag net aanvaar en harder as ooit op die oefenbaan werk.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Australië wat 90% gevax is, het ‘n Kampioen se loopbaan gekelder vir ‘n erge griep.
Wat ‘n lot ‘whingers’.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.