Klubrugbyster laat nou die enjins in die VSA brul

Louis Roos in Kentucky-aksie. Foto: Verskaf.

Louis Roos het verlede jaar sy laaste wedstryd vir Middelburg-rugbyklub gespeel. Die rooikop-senter het sy stewels ná 48 wedstryde vir Hoërskool Waterkloof se eerste rugbyspan, 55 wedstryde vir die Middelburg Old Boys’ en ’n ongelooflike 192 wedstryde vir die Mpumalanga-klub se eerste span opgehang.

Deesdae bevind hy hom in die VSA. En hoewel hy nie meer rugby speel nie, bruis die sportadrenalien steeds deur sy are.

Die 32-jarige het die ovaalbal vir vier wiele verruil en skop nou stof op by KXCR-byeenkomste in die Amerikaanse deelstaat van Kentucky.

“Rugby is in ’n man se bloed en daar is dae waar ek die spel ongelooflik baie mis,” het hy aan Maroela Media gesê.

Tog is hy tevrede met sy besluit om oorsee te trek.

Foto: Verskaf.

“Daar is dae wat ek na Suid-Afrika terugverlang, maar die feit dat my kinders tot 22:00 kan buite speel en net kinders kan wees, maak alles die moeite werd.”

Maar waar kom die liefde vir vierwielmotorfietse vandaan?

“Ek het as kind in Louis Trichardt saam met Stefan Swanepoel op ons veldfietse rondgejaag. Stefan is nou nog een van die bestes in die land en ek dink my liefde vir die sport het daar begin. Daar het destyds ook nie veel in die dorp aangegaan nie en ons het maar op ons fietse geboer.”

Volgens Roos wil hy aan sy fiksheid skaaf en onder die top-10-deelnemers in die huidige kompetisie klaarmaak, terwyl hy beoog om vir nog drie jaar as ’n professionele ryer rond te jaag.

Rugby speel steeds ’n belangrike rol in sy lewe en hy gesels daagliks met sy voormalige spanmaats terwyl hulle ’n lekker rugbytoernooi in Phuket beplan.

Natuurlik was daar ’n rits rugbyhoogtepunte in sy loopbaan en hy het elke herinnering in sy geheuebank gestoor.

Foto: Verskaf.

Van die onderskepdrie wat vir Waterkloof se o. 15-span die Beeldtrofee teen Affies besorg het, tot die Bulle se sewessafari in Afrika en die seweswedstryd voor ’n volgepakte stadion in Las Vegas.

“Ons het net vóór die Blitsbokke se eindstryd gespeel en om voor 60 000 geesdriftige toeskouers te speel, is beslis iets wat ek nooit sal vergeet nie.”

“Mens aanvaar baie dinge in die lewe as vanselfsprekend, maar wanneer jy aan alles terugdink, besef jy hoe bevoorreg jy was.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.