Kolisi onder dié wat Hamilton gelukwens

Lewis Hamilton en Siya Kolisi by die Laureus-toekennings in Berlyn. Foto: Twitter.

Die Britse renjaer Lewis Hamilton het gister sy sewende F1-wêreldtitel ingeoes toe hy op skouspelagtige wyse die Turkse Grand Prix gewen het.

Die 35-jarige Hamilton het in die sesde plek weggespring, maar hy het teruggeveg om op ’n nat baan sy 94ste loopbaanoorwinning te behaal en sommer ook die legendariese Michael Schumacher se wêreldtitel-rekord te ewenaar.

Sedertdien stroom die lof vir Hamilton se vertoning in.

Sebastian Vettel – wat ’n nagmerrie-seisoen by Ferrari gehad het – was die eerste om die Brit geluk te wens.

“Dit was ’n goeie uitslag vir ons, maar dit is ongetwyfeld Lewis se dag – hy het immers geskiedenis gemaak. Dit is ’n ongelooflike prestasie en ek is dankbaar dat ek dit eerstehands kon ervaar,” het Vettel gesê.

Die Springbokkaptein Siya Kolisi het homself tot Instagram gewend om ’n boodskap vir die Brit te stuur.

“Baie geluk met alles wat jy tot dusver bereik het; dankie dat jy ’n wonderlike voorbeeld en mens is,” het Kolisi geskryf.

“Dankie dat jy jou stem en platform gebruik om verandering teweeg te bring en steeds optimaal presteer. Nou kan kinders van enige agtergrond of ras daarvan droom om ’n F1-kampioen te word.”

Hamilton het die seisoen wat weens die Covid-19-pandemie laat in die jaar begin het, heeltemal oorheers en spog reeds met 307 punte, gevolg deur sy Mercedes-spanmaat Valtteri Bottas (197), Max Verstappen (170) en Sergio Perez (100).

Die volgende wedrenne is in Bahrein (6 Desember) en Abu Dhabi (13 Desember).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Rentia ·

Ag hemel… moet ras alewig ORAL ingesleep word? Jy is goed in iets of jy is nie. Punt.

Jean ·

Hamilton is beslis die beste in wat hy doen maar nie Kolisi nie.

Rentia ·

Jean ek stem heeltemal saam.
Hy is die beste, sy rekord getuig daarvan. So hoekom is dit alewig nodig om ras oral in te sleep? Wat maak dit saak wat sy velkleur is? Dit verander niks aan sy prestasie vermoë nie -dus my stelling. Jy kan iets doen of jy kan nie. My velkleur gaan byvoorbeeld nie die feit verander dat ek ‘n lelike handskrif het nie?

MakersMark ·

Stem saam ten minste vier ander spelers wat beter is en 80 min nie 50 min speel, asook tussen die huidige nr 8 en nr 10 is daar ‘n uitstekende kaptein en onderkaptein wat in elk geval die span op die veld gelei het in die RWC.

Niklaas ·

Hamilton is die beste en niemand kan stry oor hom nie. Ek swyg maar eerder oor my opinie van die werklike vermoëns van die ander ou (wat weer lanklaas in die nuus was)

Anton ·

In Michael Schumacher se dae het ek Maleisië toe gevlieg om Formule 1 te gaan kyk. Vandag sal ek nie eers die kanaal daarvoor verander nie. Siya kan maar kruip by Lewis, miskien koop hy ‘n kaartjie vir ‘n toets. Ek weier dat ‘n man wat miljoene betaal word om agter ‘n leer bal aan te hardloop vir my preek oor my morele verpligtinge

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.