Kom draf in Monument se skadu

Die tekkies gaan weer op 27 November by die Voortrekkermonument klap. Foto: Verskaf.

Die Voortrekkermonument-halfmarathon vind op 27 November in die bekende erfenisgebied in Pretoria plaas en belangstellendes het tot Sondag (21 November) kans om aanlyn in te skryf.

Die wedloop het sy onstaan te danke aan die Voortrekkermonument se 80ste verjaardag in 2018. En volgens organiseerders is vanjaar se drafsessie selfs meer spesiaal omdat dit die eerste amptelike padwedloop is wat ná die uitbreking van die Covid-19-pandemie in Pretoria aangebied word.

“Deelnemers kan met volkome gemoedsrus vir die wedloop aantree met die wete dat daar aan al die gesondheidsregulasies voldoen word. Alle inskrywings moet egter aanlyn gedoen word en geen inskrywings word op die dag van die wedloop behartig nie.”

Atlete sal vir die grootste gedeelte van die wedloop die Monument in sig hê, terwyl die roete jou ook verby die Muur van Herinnering, die Erfenissentrum, Fort Schanskop, die Danie Theron-standbeeld en die amfiteater sal neem.

“Die wedloop vind grotendeels op die teer- en geplaveide paaie rondom die monument plaas, terwyl die trappe van die amfiteater ook op die spyskaart is. Die roete is ongetwyfeld uitdagend, maar deelnemers word getrakteer met ’n asemrowende uitsig oor die hoofstad, asook die ryk natuurlewe binne die natuurreservaat se grense.”      

Omdat dit ’n omgewingsvriendelike wedloop is, word deelnemers versoek om hul eie waterbottels saam te bring wat dan by verskeie watertenks hervul kan word.

Datum: 27 November 2021

Sluitingsdatum vir inskrywings: 21 November 2021 en aanlyn inskrywings kan hier gedoen word. 

Afstande: 21,1 km (R120), 10 km (R100) en 5 km (R50). Tydelike lisensies is teen R40 beskikbaar.

Wegspringtyd: 06:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.