Koning Nadal het g’n voete van klei

Rafael Nadal. Foto: Twitter.

As iemand ooit ’n koninklike titel verdien, dan is dit Rafael Nadal op die kleibane van Roland Garros. Want die 34-jarige het vandag vir Novak Djokovic weggeblaas om sy 13de Franse Ope-titel te wen.

In die proses het die Spanjaard sy 20ste Grand Slam gewen, terwyl hy die Serwiër se trotse onoorwonne rekord in 2020 (afgesien van sy faux pas gedurende die Amerikaanse Ope) beëindig het.

Djokovic is een van die min spelers wat al vir Nadal op kleibane kon wen, maar enige drome om iets soortgelyks te vermag, het in die eerste stel by die venster uitgewaai.

Dit het die Spanjaard net minder as 50 minute geneem om die eerste stel met 6-0 te wen en net ’n rapsie langer om die tweede met 6-2 te wen.

Novak Djokovic. Foto: Twitter.

En dit is nie asof Djokovic besonder sleg in daardie stelle gespeel het nie; hy sou waarskynlik enige ander speler laat klippe kou het. Maar Nadal was vandag net in ’n klas van sy eie – hy was doodgewoon vinniger, sterker en beter as die stomme Serwiër.

Tog is Djokovic nie verniet die wêreld se voorste speler nie en hy het in die derde stel goed teruggeveg om met 5-4 voor te loop. Maar – soos wat daar in die vorige paragraaf reeds gesê is – Nadal was net vinniger, sterker en beter en hy het die wedstryd met ’n kishou beklink om met 6-0, 6-2 en 7-5 te wen.

Kommentators het dit as die beste vertoning ooit op ’n kleibaan bestempel en hy het in die proses Roger Federer se Grand Slam-rekord geëwenaar.

Vóór die Ope het kenners gemeen dat die Spaanse kleibaankoning gaan sukkel – die koue weer gaan hom pla en die balle gaan nie lekker bons nie. Nou ja, vir hulle het hy dubbel en dwars verkeerd bewys.

Vamos, Nadal!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Nadal ongetwyfeld koning van Roland Garros.Dink,so tong in kies, hul moet die beker nou maar aan hom skenk en met ‘n nuwe begin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.