‘Koning van klei’ het Franse Ope in visier

Rafael Nadal. Foto: Filippo Monteforte/AFP.

Rafael Nadal is weer terug op die oefenbaan nadat ’n ribbesering hom vir vier weke langs die kant gehou het.

Die wenner van 21 Grand Slam-titels het die besering tydens die Indian Well-toernooi in Kalifornië opgedoen en daar is aanvanklik gevrees dat hy so lank as ses weke op die krukkelys kan wees.

“Dit is vandag die eerste rustige oefensessie nadat ek vir vier weke nie op die baan was nie. Hoe lekker is dit nie om weer op ’n kleibaan te wees nie!” het Nadal op sosiale media gesê.

Die Spanjaard se aanloop tot die 2022-tennisseisoen kan met ’n wegholtrein vergelyk word: Hy het 20 wedstryde op ’n streep gewen en onder meer met die louere in Melbourne en Miami weggestap.

Hoewel hy die eerste twee toernooie van die kleibaanseisoen (in Monte Carlo en Barcelona) misgeloop het, behoort hy gereed vir die Madrid-ope in Mei te wees.

Die Franse Ope is egter die groot trekpleister en Nadal sal waarskynlik alles in sy vermoë doen om op sy beste in Parys te wees.

Die 35-jarige speler het reeds 13 keer die silwerware op die Roland Garros-baan omhoog gehou, maar Novak Djokovic het verlede jaar sy planne deurmekaar gekrap toe hy hom in ’n titaniese halfeindstryd uitgeskakel het.

Die Serwiër het die kragmeting met 3-6, 6-3, 7-6 en 6-2 gewen om die koning van klei van sy Franse troon af te stamp.

Dit was slegs Nadal se derde nederlaag in 16 jaar op Roland Garros .

“Dit is die grootste voorreg om teen Rafa hier te speel. Vanaand was my beste vertoning ooit op Roland Garros,” het Djokovic gesê. “Elke keer wanneer jy teen hom speel, weet jy dat jy Everest sal moet uitklim om uiteindelik met die louere weg te stap. ’n Mens sukkel om woorde te vind om sy vertonings in Parys te beskryf.”

Nadal het ook aangedui dat hy weer in die Franse hoofstad wil wen.

“’n Mens is natuurlik hartseer om in die belangrikste toernooi van die jaar te vas te val, maar die lewe gaan voort. Ek brand egter om in 2022 weer die Franse Ope my toernooi te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.