Kovsies se bekroonde speler wil net haar sport geniet

Sne Mdeltshe met een van haar trofees. Foto: Facebook.

Sikholiwe “Sne” Mdletshe is ’n netbalspeler wat die perfekte balans gevind het. Hoewel sy baie hard gewerk het om suksesvol op die baan te wees, weet sy ook dat sport oor iets baie belangriker gaan: Om net jouself pleinweg te geniet.

Die 20-jarige Kovsie-senter is een van Suid-Afrikaanse netbal se groot opkomende sterre – sy was ’n lid van die nasionale studentespan, terwyl sy die SA o. 20-span aangevoer het. O ja, sy was ook die speler van die toernooi by die afgelope Spar Nasionale Kampioenskap.

“Ek geniet my netbal baie vanjaar. Daar is baie uitdagings – veral wat studies betref – maar ek hou aan om te groei as ’n speler. Om eerlik te wees, wil ek eintlik net netbal speel. Dit is al,” het sy gesê.

Die senior Proteaspan het vanjaar skitterend by die Wêreldbeker-netbaltoernooi gevaar. Onder Norma Plummer se leiding, en met spelers soos Karla Pretorius, Erin Burger, Lenize Potgieter en Maryka Holtzhausen in die span, het hulle vierde by die wêreldskouspel geëindig.

Natuurlik het hul vertoning ander netbalspelers in Suid-Afrika geïnspireer om na hoër hoogtes te mik.

“Om die Proteas en ander lande se topspelers in aksie te sien, was net verstommend. Ek het beslis ’n paar van hul toorkunsies gesteel en ek hoop om só ’n beter speler te word.”

Sy het verlede jaar Suid-Afrika se o.20-span aangevoer. Foto: Facebook.

Een van die redes vir die nasionale span se sukses is die feit dat so baie spelers in die wêreld se voorste netballigas speel.

“Om oorsee te speel sal ’n wonderlike geleentheid wees, maar ek is nog net 20 jaar oud. Ek wil eintlik net die spel soveel as moontlik geniet, terwyl ek die Here daardeur verheerlik.”

Mdletshe gaan vir Kovsies in die komende Varsitybeker speel.

“My doelwitte vir my loopbaan is eenvoudig: Ek wil net as ’n speler verbeter, terwyl ek wil aanhou groei in my geloof en in God.”

“Maar om die Varsitybeker te wen sal ook baie spesiaal wees,” sê sy met ’n reuseglimlag.

Volgens Mdletshe was een van haar gunsteling oomblikke op die baan toe sy ’n verdedigingstegniek – wat ’n hele ruk geneem het om te bemeester – suksesvol op die baan uitgevoer het.

Sy skroom nie om hard te werk nie, sy is geduldig en sy geniet elke sekonde op die baan.

Sne Mdletshe kan dalk een van die Proteas se sterre wees teen die tyd wat Kaapstad die Wêreldbeker-toernooi in 2023 aanbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Netbal Fan ·

Welgedaan! Harde werk verseker sukses! Sterkte met jou studies en netbal loopbaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.