Kwota-fiasko: Netbalspan uit eindstryd oor te min wittes op baan

Foto: Verskaf.

As netbalafrigter is Theresa Rossouw een van die bestes in die land. In haar 25 jaar langs die netbalbaan het sy al sukses saam met haar skool- en provinsiale spanne gesmaak en as afrigter van die Mpumalanga Sunbirds was sy juis goed op koers na nóg ’n eindstryd.

Maar kort nadat die Sunbirds met die Kingdom Queens in die halfeindstryd van die Telkom-netballiga afgereken het, hoor hulle die onstellende nuus: Die span het nie aan die transformasie-regulasies voldoen nie en word van hul punte gestroop.

Beamptes het aangevoer dat die span reëlnommer 3.6 en 3.7 van die toernooi oortree het: In die tweede kwart van die wedstryd was daar te min wit spelers op die baan.

Volgens die regulasies moet daar ten alle tye ’n spelerskwota van 2/5 of 3/4 op die baan gehandhaaf word. In die hitte van die stryd het die Sunbirds een wit speler en ses spelers van kleur op die baan gehad.

En waar die Sunbirds die wedstryd met 43 – 42 ná ’n uur se spel gewen het, is hul punte binne ’n japtrap gestroop en is daar bevind dat hulle die kragmeting eintlik met 42 – 0 verloor het.

“My spelers was stukkend. Die een oomblik was hulle opgewonde oor die eindstryd, net om in die volgende te hoor dat hulle verneder is,” het Rossouw vroeër die week aan Maroela Media gesê.

Dit moes ongetwyfeld ’n reuseterugslag vir die span gewees het: Hulle het gesorg vir ʼn opskudding in die B-afdeling van die kompetisie en reeds ’n paar keer vantevore in die toernooi met die Queens afgereken.

Boonop is die meeste Sunbirds amateurspelers wat verlof moes neem om in die reeks te speel.

Theresa Rossouw (tweede van regs) en haar bestuurspan. Foto: Verskaf.

Net vóór die laaste groepwedstryd teen die Diamonds het Rossouw se spanbestuurder, Maria Cato, inmekaargesak en is per ambulans na die hospitaal gehaas.

Sy is steeds in ’n Bloemfonteinse hospitaal en ondergaan later die week ʼn operasie.

Vir Rossouw was Cato se afwesigheid ’n groot terugslag langs die baan. As spanbestuurder het sy altyd gesorg dat alle dokumentasie korrek ingevul word en dat die regte persentasie wit/swart spelers ten alle tye op die baan is. Haar teenwoordigheid het beteken dat die spelers en afrigters hul volle aandag aan die aksie op die baan kon gee.

Netbal SA se tegniese beamptes is egter steeds vooraf oor Cato se afwesigheid ingelig en dat die res van die span sal sukkel om haar skoene vol te staan.

“Waarom sou ons tydens die hele toernooi – wat oor twee rondes beslis is – die korrekte prosedure volg, net om vóór die laaste hekkie te probeer verneuk? Ek sou só iets nooit aan my spelers doen nie – hulle was gereed om goud te wen!

Die punteleer soos op 24 Oktober 2020. Foto: Verskaf.

“Ek weet dat die tegniese beamptes al in die verlede spanne gehelp het as hulle per ongeluk die verkeerde hoeveelheid spelers per ras op die baan het. Waarom het hulle my nie ook tydens die wedstryd op die skouer kom tik nie? Al my spelers is ewe goed en ek sou dit onmiddellik verander het.”

Rossouw het onsuksesvol teen die bevinding geappelleer en die onregverdigheid van die situasie is ongetwyfeld ’n steen des aanstoots vir haar.

Sy voer aan dat verlede jaar se toernooiwenners tydens ’n wedstryd ’n soortgelyke oortreding oor al vier kwarte begaan het en dat hulle slegs op die vingers getik is.

Terselfdertyd voldoen van die spanne se bestuur ook nie aan die voldoende kwotaregulasies nie. Dit moet 50/50 wees en die demografie van die provinsie weerspieël.

“Die feit dat ek as afrigter – sonder dat ek dit besef het – soveel teleurstelling kon veroorsaak is verskriklik. Ons was op die aanval en ek en my assistent se volle aandag was op die spel gewees; hulle is my spelers en ek kyk nie na kleur nie.”

Daar was ook vóór die toernooi probleme met die Sunbirds se amptelike wedstryddrag. Die rokkies was te kort en daar moes inderhaas verstellings aangebring word. Dan het van die spelers nie sweetpakke ontvang nie en hulle moes noodgedwonge gedurende die openingseremonie op die pawiljoen sit omdat hulle nie op die baan toegelaat was nie.

“Ek is ’n passievolle netbalondersteuner, maar ek is bereid om my afrigtersakkreditasie en skeidsregtergradering vir regverdigheid prys te gee. Ons spelers is deur diepe waters in hierdie toernooi en ek is van mening dat die beamptes meer begrip vir ons situasie kon toon.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Pieter ·

En nie gemik op wat span wil doen nie maar hoe anc probeer inmeng met kwotas. (Laat die wat kan speel, speel ongeag kleur).

J ·

Bizar!

Want meriete is al wat moet tel!

Nog ‘n produk van die ANC rampokker regime!

Natasha ·

Daar is nie plek vir rasisme en vel kleur in sport nie!!! Al wat moet tel is meriete. Ons regering gaan SA se hele reputasie deur die modder sleep oor hulle obsesief is oor die kleur van ons vel.

Daniël ·

Dit is nou die gevolge van ons regering se absolute belaglike beheptheid met rasseklassifikasie

david ·

Soos ek telkens na die Springbok/Protea Spanne verwys het–POLITIEKE UITNODIGINGS SPANNE.

Rasbehepte sport….?
Netbal behoort deur hulle Internasionale beheerliggaam GESKORS te word oor Regerings inmenging–die kwotas is mos deur die regering bepaal ..of hoe?

Androclus ·

Sport is om te geniet,as jy beter is as ek dan is dit so ongeag van velkeur,al is daar 14 swartspelers en 1 wit speler in ‘n span dan is dit nog steeds ‘n span.

Piet parys ·

En as die span 1 swart speler het en 14 witspelers dan geld die reels mos nie . Dan is die span weer te wit of wat sê ek ???

Ferdi ·

Die arme spelers. Waarom begin sportsterre van alle kleur nie kapsie maak hierteen nie? Dit benadeel alle spelers, wit en swart. En die ANC glo in “nie-rassigheid”? Rêrig?

Japsnoet ·

Wat?? Ek kan nie glo wat ek lees nie te min wittes??? Wil jy my sê daar is kans dat ek weer my eie sport kan gaan speel en geniet want my vel kleur is uiteindelik reg. Well done wil ek uitskree want nou kom die wittes se kwota darem weer op hopelik sal selfde gebeur in rugby. Die kwota sisteem is belaglik laat mense gaan speel wat hul geniet en n plek in die span bekom deur dit wat jy vir die span kan betekin want kwota op ras bring nie n trofee huis toe nie. Ek is jammer vir die meisies maar ek is ook bly dat die wittes ook nou kan se kwota tot ons voordeel

Johannes Andreas ·

Klink of daardie ‘tegniese bamptes’ hulself eerder daaraan moet toewy om nuwe reëls op te stel vir die korrekte benadering van “Hoe om ‘n muskiet met ‘n hammer te slaan” en soortgelyke ander belaglikhede . Ek glo nie daar is enige ander praktiese aanwending vir sulke fenominale intellektuele kragreuse nie.

Derek ·

Wanneer jy “ras” sien in plaas van meriete speel eie belang sy kaarte, sodoende vernietig jy nie net spelers nie, maar SA. Dit is wat die afgelope 26 jaar gebeur het met die ANC se beheptheid met kleur omdat hulle blinde molle is. Ek wonder wat sal Julius Malema se siening hieroor wees na sy uitspraak dat die EFF n sogenaamde nie rassisties party is, of pas die skoen hom net wanneer hy in die moeilikheid is, Die ANC vernietig nie net SA maar ook hulleself, waaroor ons almal baie bly is, die streep is getrek in die sand. n Stelling wat hierdie ras beheptes heel duidelik nie begryp.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Tipies! As daar te min wit spelers in die sokkerspanne is, is daar niks verkeerd nie. As daar te veel wit spelers in die rugbyspanne is, dan skree hulle blou moord. En nou word ‘n oorwegend swart netbalspan gestraf omdat hulle te veel swart spelers op die baan het! Praat van dubbele en trippele standaarde!

Mallie ·

Genade wat nou nog. Eers was die spelers te wit en nou is die spelers te swart. Wat gaan aan. Is dit nie die sport wat tel nie?

Blackies ·

Swak Swak Swak. Ek hoop die ander spanne ontrek van die finaal. Sunbirds sterkte vir die toekoms.

Jessica ·

Wel, uiteindelik word daar nie gesê dis alweer witmense wat te veel is nie. Jammer vir die span se verlies. Sorry, maar dit kom nou daarvan om alewig die velkleur te blaam.Swaai die kaarte , wat as daar te veel wittes was? Dan was dit rassisme.

Schalk ·

Dit is ironies dat sport en die ondersteuning al so lank voel dat slegs meriete in gedagte gehou moet word vir spankeuses. Geen raskwotas behoort in enige sport toegelaat te word. Die wiel het gedraai en nou word voorheen benadeeldes weer benadeel deur huidige bevoordeelde wette. Dis sommer twak. Die ironie is dat nou is die Minister van sport se groot mond stil!!! Die mens benadeel homself deur alles te wil beheer met statistieke en syfers!

Mieke ·

Jaloesie!! Omdat die afrigter wit is en doen té goed met haar span!

Karina ·

Nou vertel my wat van sokker? Is daar enige blankes, indiers of kleurlinge in Bafana en ander sokker spanne? Wat vir een sport tel moet mos vir al die sport soorte te wees?

Sarel ·

Eerder Politiek as Sport. Wat is die kommentaar van Nathi Mthetwa.
Is daar nie onderlangs gekonkel nie wsnt klink of beamptes van die begin af teen die span was

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.