Kyk: Alcaraz vee Zverev (en bye) uit sy pad

Carlos Alcaraz probeer van die swerm bye weg te kom. (Foto: X/Indian Wells)

Daar was bye in die lug en Carlos Alcaraz se spel in die kwarteindstryd was so soet soos ʼn potjie heuning.

ʼn Swerm bye kon nie eens die jong Spanjaard in sy spore stuit om vir die halfeindstryd van die Indian Wells-toernooi in Kalifornië te kwalifiseer nie.

Die tweede gekeurde speler moes by tye sy raket soos ʼn wafferse vlieëplak rondswaai om die bye van hom weg te hou en sy wedstryd teen Alexander Zverev is met amper twee uur vertraag terwyl daar gespook is om die vlieënde baaninvallers te verwyder.

Maar toe die aksie weer hervat is, was Alcaraz in ʼn veglustige bui en het hy sy Duitse teenstander met 6-3 en 6-1 uit sy pad gevee.

Die bye het vroeg in een van sy afslaanpotte hul verskyning gemaak en hulle wou beslis die aksie van nader beskou.

“Ek het opgekyk en daar was duisende bye wat rondgevlieg het en om my kop gedraai het. Dit was malligheid,” het Alcaraz gesê.

Volgens die 20-jarige ster was dit beslis vir hom ʼn nuutjie op die tennisbaan.

“Net vóór ons op die baan uitgestap het, het ons die bye op die TV gesien en ons het lekker daaroor gelag. Mense gaan dié wedstryd oor die bye-inval onthou en nie soseer die tennis nie.”

Die hulp van ʼn byeboer is ingeroep en die spel kon weer hervat word.

“Ons het besluit om op te warm en daar was net ʼn paar bye wat nog rondgevlieg het. Ek het probeer om nie meer aan hulle te dink nie en op my spel en die punt te konsentreer. Ek is baie tevrede met die tennis wat ek opgedis het.”

Alcaraz sal nou teen die Australiese Ope-kampioen, Jannik Sinner, in een van die toernooi se halfeindstryde te staan kom.

Uitslae:

Daniil Medvedev klop Holger Rune met 7-5 en 6-4

Carlos Alcaraz klop Alexander Zverev met 6-3 en 6-1

Jannik Sinner klop Jiri Lehecka met 6-3 en 6-3

Tommy Paul klop Casper Ruud met 6-2, 1-6 en 6-3

Maria Sakkari klop Emma Navaro met 5-7, 6-2 en 6-4

Coco Gauff klop Yue Yuan met 6-4 en 6-3

Maria Kostyuk klop Anastasia Potapova met 6-0 en 7-5

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.