Kyk: Ali se kleinseun behaal sege in die kryt

Bob Arum saam met Nico Ali Walsh. Foto: Twitter.

Nico Ali Walsh, die kleinseun van die legendariese bokser Muhammad Ali, het Saterdagaand in sy oupa se voetspore gevolg toe hy sy eerste professionele boksgeveg in Oklahoma in die VSA gewen het.

Die 21-jarige bokser se geveg teen Jordan Weeks by die Hard Rock Hotel & Casino is ná klipharde regtervuishou in die eerste ronde stopgesit. Sodoende het hy toegesien dat Ali se nalatenskap in die bokskryt voortleef; boonop is die kortbroek waarin hy geboks het ’n geskenk van sy oupa.

Muhammad Ali staan as “The Greatest” in die bokswêreld bekend en hy het net vyf keer in sy roemryke loopbaan verloor. Hy is in 2016, ’n kort rukkie voor sy kleinseun se 16de verjaardag, in die ouderdom van 74 dood.

“Dit was ongetwyfeld ’n emosionele reis om tot hier te kom en ek dink die afgelope tyd baie aan my oupa; ek verlang na hom,” het Walsh ná die geveg gesê

Tog is dit duidelik dat die jong bokser sy eie pad in die bokswêreld wil oopveg; hy wil nie altyd as “Ali se kleinseun” bekendstaan nie.

“Baie dankie vir almal se ondersteuning. Ek het my oupa saam met my in die kryt gehad deur in sy kortbroek te boks. Dit is egter die eerste en laaste keer in my professionele loopbaan dat ek dit dra. Ek is baie trots daarop dat sy nalatenskap kan voortleef.”

Bob Arum, oudpromotor van Muhammad Ali, is ook aan die stuur van Walsh se bokssake en hy was in sy noppies met die opkomende ster se vertoning.

“Sy oupa sou beslis trots op hom gewees het,” het die 89-jarige Arum getwiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.