Kyk: Besering se voet! Rafa oefen in Parys

Rafael Nadal spog met ’n rits titels in die Franse hoofstad. Foto: Twitter.

Goeie nuus vir tennisliefhebbers: Rafael Nadal het gister op die Philippe Chatrier-baan in Parys litte losgemaak vir die komende Franse Ope.

Die Spaanse ster het twee ure lank (voor ’n vol pawiljoen, nogal) geoefen en dit het nie gelyk of sy voetbesering hom te veel gepla het nie.

Die besering het hom verlede jaar geruime tyd langs die baan gehou en hy het onder meer die Olimpiese Spele en die Amerikaanse Ope misgeloop. Dit het hom ook weer in verlede week se wedstryd teen Denis Shapovalov in Rome gekniehalter.

“Ek het weens my voet weer baie pyn ervaar. Ek is ’n speler wat noodgedwonge met ’n besering moet saamleef en dit is soms baie moeilik om dinge so te aanvaar,” het die 35-jarige speler ná die wedstryd gesê.

Tog sal Nadal nie sommer die Franse Ope misloop nie. Die “Koning van Klei” sal alles in die stryd werp om sy troon terug te wen; veral nadat hy verlede jaar deur Novak Djokovic in die halfeindstryd uitgeskakel is.

“Ek is natuurlik hartseer om in my belangrikste toernooi van die jaar vas te val, maar die lewe gaan voort. As ’n mens mooi daaroor dink, is dit eintlik net ’n nederlaag op ’n tennisbaan,” het Nadal ná daardie wedstryd gesê.

“Maar volgende jaar is ek terug. En as die Here wil, met die nodige selfvertroue en werksetiek om vir my nog ’n kans te gee om die toernooi te wen.”

En op die kleibane van Roland‑Garros is Rafael Nadal ’n gedugte teenstander; een wat oor die wilskrag beskik om wedstryde te wen, selfs met ’n besering.

Die aksie begin Sondag in Parys en die wedstryde sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.