Kyk: Kyrgios verloor weer sy humeur

Nick Kyrgios. Foto: Clive Brunskill/Getty Images/AFP.

As Nick Kyrgios tennis speel, kan jy maar weet dat die vonke gaan spat.

Die Aussie beskik oor emmersvol talent en kan soms met verstommende houe vorendag kom, maar hy is eerder bekend vir sy vurige humeur.

Kyrgios het goeie tennis teen Rafael Nadal in die kwarteindstryd van die Indian Wells-toernooi in Kalifornië gespeel – hy het gereeld kishoue afgevuur en hy het goed teruggeveg om die tweede stel te wen.

Maar Nadal was uiteindelik net te goed en die Spanjaard het sy 19de agtereenvolgende wedstryd met 7-6, 5-7 en 6-4 gewen.

Net nadat die spelers blad geskud het, het Kyrgios uit pure frustrasie sy raket op die grond gegooi. Die raket het soos ’n wafferse opslagkoeël die hoogte ingeskiet en amper een van die baljoggies getref.

Kyrgios het egter ná die wedstryd ’n skermskoot van ’n gesprek tussen hom en die baljoggie (Tei Park) gedeel waarin hy om verskoning gevra het.

“Ek is jammer oor die raketvoorval teen die einde van die wedstryd. Dit was ’n ongeluk en ek hoop jy is oukei? Ek het gewonder of ek vir jou ’n raket kan stuur en of jy my verskoning sal aanvaar?”

Park het so te sê onmiddellik die verskoning aanvaar en die speler vir sy boodskap bedank.

Nadal speel nou môre teen sy landgenoot Carlos Alcaraz Garfia in die halfeindstryd. Volgens die Spanjaard is dit ’n groot uitdaging om met Kyrgios kragte te meet.

“Dit is altyd moeilik om teen Nick te speel want hy is ’n dinamiese speler met uitstekende afslane. As hy eers gemotiveerd is gaan jy beslis sukkel,” het Nadal gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jacques ·

Skors hom en Medvedev wat so optree, dis nie tennis nie, hulle moet eerder gaan sokker speel, narre.

Manie ·

Kyrgios is ‘n tennis skurk, die beheerliggam kan hom gerus vir ‘n lang periode skors, tennis sal hom nie mis nie. Die mannetjie het ‘n hengse groot ego.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.