Kyk: Max wil ook in SA jaag

Max Verstappen. Foto: Christian Bruna/AFP.

Max Verstappen wil ook graag met sy renmotor in Afrika jaag en volgens die verdedigende wêreldkampioen sal Kyalami die perfekte inskrywing op die F1-kalender wees.

“Ek sal daarvan hou om in Afrika aan ’n wedren deel te neem. Daarom sal Kyalami ’n cool toevoeging wees,” het die jong Nederlander gesê.

F1 het laas in 1993 ’n draai in Suid-Afrika gemaak toe die Fransman Alain Prost koning op Kyalami gekraai het. Die legendariese Ayrton Senna het toe tweede klaargemaak, gevolg deur Mark Blundell.

Lewis Hamilton het ook vroeër aangedui dat die F1-aksie sy pad terug na Afrika moet vind.

In die volgende paar seisoene sal die renmotors se enjins weer in Sjina, Las Vegas en Katar brul, terwyl Afrika die enigste vasteland sonder ’n F1-wedren is.

“Dit is belangrik dat die sport ook daar ’n draai maak. As ons dan in elke ander kontinent jaag, waarom dan nie ook in Afrika nie?” het die sewemalige wêreldkampioen in ’n onderhoud met ESPN gevra.

“Die een waarna ek rêrig uitsien, is in Suid-Afrika; dit is die een wedren wat ek graag volgende op die wedrenkalender wil sien.”

Volgens Hamilton is sy voorouers van hier af en ’n Afrika-wedren lê hom na aan die hart.

“Ek dink dat F1 ’n gewilde sportsoort in Suid-Afrika is en dit sal ’n wonderlike manier wees om die natuurskoon van die vaderland te onderstreep.”

Ná die afgelope naweek se aksie is Verstappen binne trefafstand van Charles Leclerc op die jaerspunteleer en die Red Bull-renjaer sorg ook vir ’n lekker stukkie statistiek: Wanneer hy ’n wedren voltooi, staan hy eerste op die podium.

Sy motor het weliswaar vir probleme in Bahrein en Australië gesorg, maar hy het met die louere in Saoedi-Arabië, Italië en die VSA weggejaag.

“Die motor het ongetwyfeld baie potensiaal, maar ons sal moet seker maak dat dit ook betroubaar is,” het hy ná Sondag se aksie gesê.

Die volgende wedren is op 22 Mei in Spanje.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Stephen ·

Liewer nie Max. Jy sal miljoene aan die korrupte ANC moet betaal.

Vonkprop ·

En ons sal duisende rande vir kaartjies moet betaal omdat dit van oorsee kom. Dalk kan Lewis en sy vaderland vir ons kaartjies teen kosprys kry omdat ons ook van die vaderland is

Lollapop ·

Fantasties, ek begin solank spaar, sal beslis dit wil sien, hier in SA gebeur niks nie

Twallie ·

Alhoewel, ek gretig sal wees om dit te sien, weet ek nie of dit ‘n goeie idee sal wees nie.

Net soos met die sokker wêreldbeker gaan Suid Afrika miljoene spandeer om dinge reg te kry, en al die opbrengste gaan land uit, want die FIA sluk alles.

Alhoewel sommige besighede sal geld maak daaruit, dink ek nie dis die moeite werd nie.

Vonkprop ·

Die baan gaan seker deur BEE maatjies geteer word, so na die eerste oefenrondte sal daar slaggate elke 10 meter wees, die bande wat bedoel was vir beskerming om die baan sal gebrand word vir hoër lone en ons brandstof is te duur so hulle sal net R200 se petrol kan ingooi. En o ja hulle sal seker e-tol ook op die baan installeer en die rekeninge vir die spanne stuur.

NaomiS ·

Gelukkig ne, word Kayalami deur n privaat persoon besit en nie deur die staat nie.

Vonkprop ·

Gelukkig ja, maar ek twyfel of die regering sy hande daar sal uithou. Gaan met voorwaardes van 200 bladsye kom om dit te kan aanbied. Hulle sal definitief hulle aandeel wil hê.

Andries ·

F1 sal moet begroot vir tien spanne veiligheidswagte en lyfwagte vir almal.

Gideon ·

Die baan seker vol potholes, hulle is braaf om daar te jaag, eerder dit n 4×4 resies maak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.