Kyk: Murray se merkwaardige punt

Andy Murray vier nog ’n punt in Melbourne. Foto: Twitter.

Vergeet vir eers van videospeletjies. Andy Murray het in Melbourne gewys dat hy oor net sulke ongelooflike houe beskik.

Die Skot het uitstekend teen Thanasi Kokkinakis terugbaklei om die wedstryd met 4-6, 6-7, 7-6, 6-3 en 7-5 te wen.

Maar dit is veral sy verstommende vertoning in die derde stel – nadat die Aussie die vorige twee stelle beklink het én ʼn voorsprong van 2-0 opgebou het – wat tennisliefhebbers laat regop sit.

Kokkinakis het hom omtrent op die baan rondgejaag en Murray het doodeenvoudig net elke keer die bal teruggeslaan.

Die 35-jarige voormalige wêreldnommereenspeler het gestrek, geskree en sy bene afgehardloop. Maar ná 14 aksiebelaaide houe het hy die punt gewen en sodoende sy herlewing ingelui.

O ja – dit het alles ná middernag gebeur. Die wedstryd het om 04:05 (Australiese tyd) geëindig. Dit was inderdaad midnight madness soos wat die kommentators gesê het.

In die proses het Murray sterk gestaan teen 102 wenhoue en 37 kishoue. Nie te sleg vir ʼn speler wat vroeër gedink het sy heupbesering kan die einde van sy loopbaan beteken nie.

“Dit was ongelooflik om ʼn ommeswaai in die wedstryd te bewerkstellig. Ek weet nie hoe op aarde ek dit reggekry het nie,” het Murray ná afloop van die titaniese stryd gesê.

“Thanasi het met sy kragtige afslane en voorhandhoue my onder hewige druk geplaas. Tog het ek verbeter namate die wedstryd gevorder het – ek verloor nie sommer moed nie.”

Die vurige Skot spog nou met die meeste oorwinnings nadat hy met twee stelle in ʼn wedstryd agter was. Hy het nou al 11 keer danksy sy merkwaardige terugvegpogings as oorwinnaar van die baan gestap.

Uitslae:

Andy Murray klop Thanasi Kokkinakis met 4-6, 6-7, 7-6, 6-3 en 7-5

Alex de Minaur klop Adrian Mannarino met 7-6, 4-6, 6-4 en 6-1

Benjamin Bonzi klop Pablo Carreno Busta met 4-6, 4-6, 7-6, 6-1 en 7-6

Grigor Dimitrov klop Laslo Dere met 6-3, 6-2 en 6-0

Andrey Rublev klop Emil Ruusuvuori met 6-2, 6-4, 6-7 en 6-3

Felix Auger-Aliassime klop Francisco Cerundolo met 6-1, 3-6, 6-1 en 6-4

Stefanos Tsitsipas klop Tallon Griekspoor met 6-2, 7-6 en 6-3

Jannik Sinner klop Marton Fucsovics met 4-6, 4-6, 6-1, 6-2 en 6-0

Iga Swiatek klop Cristina Bucsa met 6-0 en 6-1

Coco Gauff klop Bernarda Pera met 6-3 en 6-2

Jessica Pegula klop Marta Kostyuk met 6-0 en 6-2

Elena Rybakina klop Danielle Collins met 6-2, 5-7 en 6-2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.