Kyk: Netflix maak reeks oor Osaka

Naomi Osaka. (Foto: David Gray / AFP)

Netflix-kykers kan binnekort ’n dokumentêre reeks oor die Japanse tennisspeler Naomi Osaka op die kassie sien.

Naomi Osaka volg die 23-jarige Grand Slam-wenner se grootwordjare en hoe die eindstryd van die 2018 Amerikaanse Ope-toernooi haar oornag in ’n tennissensasie verander het.

“Die reeks gaan nie net oor Naomi se lewe nie, maar ook oor die doel van die lewe en die deursettingsvermoë wat dit verg,” het Garrett Bradley (regisseur) gesê.

’n Netflix-reeks oor jou lewe is egter nogal vreemd as jy net kort vantevore gekla het dat jy te veel in die mediakollig is en dat jy sedert die einste Amerikaanse Ope met jou geestesgesondheid worstel.

Osaka het in Junie besluit om haar aan die Franse Ope te onttrek nadat sy nie haar mediaverpligtinge wou nakom nie.

Organiseerders het aanvanklik gedreig om haar uit die toernooi te skors, terwyl Ashleigh Barty – die wêreld se voorste vrouespeler – gesê het dat mediasessies deel van ’n professionele sportster se pligte is.

Osaka het onder meer aangevoer dat mediakonferensies nadelig vir haar geestesgesondheid is en dat dit tot almal se voordeel is as sy nie meer deel van die Franse Ope-aksie sou wees nie.

“Dit was nooit my bedoeling om die aandag op myself te vestig nie; tog erken ek dat my tydsberekening swak was en dat ek die boodskap beter kon oordra.”

Sy het daarna haar probleem met depressie beklemtoon en aangevoer dat sy uit die staanspoor in Parys kwesbaar en angstig gevoel het.

“Ek het daarom gedink dat ek liewer op myself moet fokus en die mediakonferensies vermy.”

Nou, in ’n netjiese ommeswaai, sê sy dat sy haar platform vir iets goeds moet aanwend.

“Ek glo dat in plaas daarvan om ander te volg, jy jou eie pad moet loop.”

Tydens verlede jaar se Amerikaanse Ope-toernooi het Osaka gereeld ’n masker gedra om hulde aan ’n swart slagoffer van beweerde polisiegeweld in die VSA te bring.

“Ek is in die eerste plek ’n swart vrou voordat ek ’n atleet is. En as swart vrou voel ek dat daar baie belangriker dinge is wat eerder aandag moet geniet as om te sien hoe ek tennis speel,” het sy destyds gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andrew ·

Yip, as sy wit was was daar geen fliek. En hoe meet black privelage met swart oppsessie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.