Kyk: Rafa speel teen tennisliefhebber (97)

Rafael Nadal en Leonid Stanislawski. Foto: Twitter

Rafael Nadal mag dalk nog op die herstelpad van ’n voetbesering wees, maar die Spaanse ster het steeds ’n paar balle saam met ’n 97-jarige tennisentoesias by sy akademie in Spanje geslaan.

Leonid Stanislawski van Oekraïne het ’n Guinness-wêreldrekord agter sy naam vir die oudste speler met ’n professionele tennislisensie.

Benewens die hoogtepunt om vir Nadal te ontmoet (én om ’n potjie tennis teen hom te speel) het Stanislawski ook die Spanjaard se tennismuseum in Majorka besoek.

Die 35-jarige Nadal het reeds 20 Grand Slam-titels agter sy naam, maar hy kon weens sy beserings net 29 wedstryde in 2021 speel. Hy het ook vir die eerste keer in 17 jaar nie vir die ATP Finals-toernooi gekwalifiseer nie.

Hy is egter nog so gewild soos altyd en hy het vroeër die hoop uitgespreek om die Franse Ope-titel vir die 14de keer in 2022 te wen.

Novak Djokovic het die “koning van klei” vanjaar in ’n skouspelagtige halfeindstryd op Roland Garros in Parys onttroon.

Dit was slegs Nadal se derde nederlaag in 16 jaar op Roland Garros.

“Dit is die grootste voorreg om teen Rafa hier te speel. Vanaand was my beste vertoning nóg op Roland Garros,” het Djokovic destyds gesê.

“Elke keer wanneer jy teen hom speel, weet jy dat jy Everest sal moet uitklim om uiteindelik met die louere weg te stap. ’n Mens sukkel om woorde te vind om sy vertonings in Parys te beskryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.