Kyk: Stillknocks stuur Giles planke toe!

Dricus “Stillknocks” du Plessis ná sy oorwinning. Foto: Twitter.

As ’n mens ’n skoolvergelyking kon maak, sou jy waarskynlik gesê het dat Dricus “Stillknocks” du Plessis sy tweede UFC-vraestel met vlieënde vaandels geslaag het.

Die Suid-Afrikaanse gemengdegevegskuns-atleet het in die vroeë oggendure (Suid-Afrikaanse tyd) vir Trevin Giles met ’n klipharde regterhou planke toe gestuur by UFC 264 in Las Vegas.

Die geveg is vroeg in die tweede ronde stopgesit.

Dit is ook die tweede agtereenvolgende keer dat Du Plessis sy UFC-teenstander uitslaan; een van sy opstoppers het verlede Oktober vir Markus Perez góéd in die eerste ronde van hul tweestryd in Abu Dhabi getref en die gevegsbeampte moes ook toe die aksie beëindig.

Hoewel ’n paar van die toeskouers hom uitgejou het – Giles is immers ’n Amerikaner – het Joe Rogan, die gewilde UFC-kommentator, hom geloof en onder meer sy sege as ’n “uitstekende oorwinning” bestempel.

Sosiale media het ook oor die Suid-Afrikaner se uitklophou gegons; Giles se vuishoue word wyd en syd as die vinnigste in die UFC gereken, maar Stillknocks se vuiste doen egter kliphard die praatwerk.

“My naam is Dricus du Plessis. Waar ek vandaan kom, is dit nie ’n baie moeilike naam om uit te spreek nie, maar ek sien mense sukkel om dit te sê. Onthou dit maar gerus, want dit gaan binnekort ’n alombekende naam in UFC-kringe wees,” het hy ná die geveg aan Rogan gesê.

Oudergewoonte het hy weer ’n spesiale boodskap vir sy ondersteuners in Suid-Afrika gehad.

“Dankie vir jul ongelooflike ondersteuning, ek waardeer dit baie. Dit is ’n reusevoorreg vir my.”

Veni, vidi, vici – ek het gekom, gesien en oorwin,” het die groot Romeinse generaal Julius Caesar destyds gesê.

En Dricus du Plessis het inderdaad na Las Vegas gegaan, dinge uitgekyk en ’n klinkende oorwinning behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

MakersMark ·

Uitstekend deur Dricus !! Hoop ons sien nog baie van hom. Hoogtepunt van die aand natuurlik toe koenie mcgregor weer op sy herrie gekry het teen poirier. Dan lê hy afbeen op die vloer en poirier se vrou beledig terwyl poirier praat oor die tanker lyer wie se onkologie die poirier foundation sponsor en die siek persoon se “fighting spirit” om gesond te word. Poirier het gesê koenie is ‘n “scumbag” hy is reg. Grand suit en aviator brilletjie en groot bek koop nie klas nie. Coenie het voor die geveg gesê die medics sal poirier uit die kry dra….ha ha wie is uitgedra op die wit kateltjie…. ??

Vonkprop ·

Wel gedaan Dricus. Kyk nou al jou gevegte vir ‘n baie lang tyd en jy raak net beter. Bly jy begin naam maak oorsee. En moet jou nie steur aan die oorsese uitjouery nie, dit kom gewoonlik van mense wat minder as jy in die lewe bereik het.

Piet Pompies ·

Wel gedaan – jy gaan dit nog ver bring in die UFC – ‘n Baie goeie ambasadeur vir ons Land

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.