Kyk: Verstappen jaag teen ’n Spitfire

Foto: Twitter.

F1-renmotors maak hierdie naweek ’n Britse draai met die Grand Prix op die Silverstone-renbaan. Max Verstappen gaan natuurlik probeer om sy voorsprong op die punteleer te rek, maar eers het hy ’n Spitfire-vegvliegtuig die stryd aangesê.

Die ikoniese Britse vliegtuig kan ’n topspoed van amper 600 km/h bereik, maar die Red Bull-renjaer het hom uitstekend van sy taak gekwyt en die twee het so te sê gelyktydig oor die wenstreep gejaag.

’n Lekker lusmakertjie vir Sondag se wedren waar duisende toeskouers verwag word.

Max Verstappen. Foto: Christian Bruna/AFP.

“Toe ons verlede jaar op Silverstone gejaag het, was die baan in ’n uitstekende toestand, maar daar was geen atmosfeer nie – iets waarvoor net Britse toeskouers kan sorg. Om hulle nou terug langs die baan te hê, is ongelooflik spesiaal; ek hoop dat die wedren vir net soveel opwinding sal sorg,” het Verstappen gesê.

Die 23-jarige renjaer het ’n voorsprong van 32 punte bo Lewis Hamilton op die punteleer, terwyl die Red Bull-span die afgelope vyf wedrenne gewen het.

Christian Horner (spanbaas) het juis weer gewaarsku dat sy span nie té selfvoldaan moet wees nie.

“Ons weet ons het die laaste vyf wedrenne gewen, maar daar is nog ’n lang pad om te stap en ons kan nie bekostig om dinge as vanselfsprekend te aanvaar nie. Ons moet aanhou om ons beste in elke wedren te gee,” het Horner gesê.

“Silverstone gaan inderdaad vir ons ’n groot uitdaging wees omdat dit vir die afgelope sewe jaar ’n veilige vesting vir Mercedes was. Maar daar gaan baie toeskouers wees en ons het uitstekende ondersteuners, dus kan ek nie wag om nog ’n vertoning te lewer waarop almal kan trots wees nie.”

  • Puntestand op die kampioenskap-punteleer (bestuurders):
  1. Max Verstappen 182 punte
  2. Lewis Hamilton 150 punte
  3. Sergio Perez 104 punte
  4. Lando Norris 101 punte
  5. Valtteri Bottas 92 punte
  6. Charles Leclerc 62 punte
  7. Carlos Sainz 60 punte
  8. Daniel Ricciardo 40 punte
  9. Pierre Gasly 39 punte
  10. Sebastian Vettel 30 punte
  • Puntestand op die kampioenskap-punteleer (vervaardigers):
  1. Red Bull 286 punte
  2. Mercedes 242 punte
  3. McLaren 141 punte
  4. Ferrari 122 punte
  5. AlphaTauri 48 punte
  • Die Spitfire-tweestryd begin op 04:32 van die video.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elinette

Dít was nou lekker om te kyk!!!

Stefaan

Red Bull werk aan PR