Kylon pak die bul by die horings

Kylon Liversage in aksie. Foto: Verskaf.

Kylon Liversage is al in die plaaslike media as die “Bul van Belfast” beskryf. En hy het nie hierdie lompe koerantman-bynaam verdien omdat hy vir die Blou Bulle uitgedraf het nie. Aikôna, dit is eerder omdat hy een van Suid-Afrika se voorste bultemmers is.

“Ek het in 1989 my eerste rodeo op sewejarige ouderdom by die Pioniersmuseum in Pretoria aangepak. Ek het nie verder as die hek gevorder nie,” het Liversage gistermiddag aan Maroela Media gesê.

Maar sedertdien is cowboy-hoede en bulle so deel van sy lewe as wat TV-kyk en McDonald’s vir die res van die samelewing is.

“My pa was al deel van die rodeo-aksie lank voor my geboorte. Ek onthou steeds al hul praatjies om die kampvuur op die vooraand van ’n byeenkoms; nou dít was die lewe.”

As deelnemer het Liversage al ’n hele rits rodeo’s gewen, terwyl hy drie keer in sy loopbaan as die bulruiter van die jaar aangewys is.

Elke ruiter trek ’n bul se nommer en hy moet dan vir agt sekondes bo-op die rondspringende dier se rug bly om vir ’n telling uit 100 te kwalifiseer.

Die ruiter se vermoëns tel 50 punte, terwyl die bul se vertoning vir die ander 50 punte sorg.

Foto verskaf.

“Dus hoe moeiliker dit is om die bul te ry, hoe hoër sal jou telling dan wees – dit is nou natuurlik as jy vir agt sekondes op sy rug kan bly.”

Liversage het later in sy loopbaan die harnas van ’n ruiter vir die rooi neus van ’n harlekyn verruil.

“My werk as die nar was om die ruiter te beskerm wanneer hy afval. Ons probeer om die bul se aandag te trek sodat hy nie die ruiter gaffel nie. In my ruiterdae het ek ’n paar harde houe gevat, terwyl ek as ’n nar ’n paar keer getrap en gestamp is.”

Maar wat is die moeilikste om te tem; ’n bul of ’n perd?

“Definitief ’n bul,” is sy onmiddellike antwoord.

“’n Perd spring, maar ry darem hoofsaaklik in ’n reguit lyn. Daarteenoor rol ’n bul sy lyf terwyl hy spring en hy sorg vir baie beweging.”

Liversage is deesdae meer by die organisering van rodeo-byeenkomste betrokke en hy geniet die nuwe hoofstuk in sy loopbaan.

“Daar is geen beter gevoel as wanneer lede van die publiek na jou kom en jou komplimenteer oor hoe goed die rodeo georganiseer was en hoe goed die bulle versorg en hanteer is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.