Kyrgios ’n boelie, sê Tsitsipas

Nick Kyrgios. Foto: Glyn Kirk/AFP.

Wanneer Nick Kyrgios ’n tenniswedstryd speel, kan jy meer drama as in ’n episode van Rustelose Jare verwag.

Tog beskik die vurige Aussie ook oor verstommende houe en ’n kragtige afslaan en hy het gister welverdiend vir Stefanos Tsitsipas op Wimbledon uitgeskakel. Maar soos altyd het die gepaardgaande bekgevegte en klagtes die hoofopskrifte gehaal.

Dit het aanvanklik gelyk of Kyrgios se tekereganery nie vir Tsitsipas van stryk sou bring nie en hy het die eerste stel met 7-6 gewen.

Soos wat die wedstryd egter gevorder het, het die vierde gekeurde speler se frustrasievlakke die hoogte ingeskiet – nie net met Kyrgios se alewige bekgevegte nie, maar ook met sy eie onvermoë om geleenthede doeltreffend te benut.

Kort nadat hy die tweede stel verloor het, het hy vies die bal weggeslaan en amper ’n toeskouer getref. Natuurlik het Kyrgios breed oor dié glips geglimlag en hy het met die skeidsregter begin redekawel; ’n speler kan mos nie net ’n bal in die rigting van die toeskouers slaan en nie gepenaliseer word nie, of hoe?

’n Onderarm-afslaan het net verder tot Tsitsipas se ongelukkigheid bygedra en hy het later probeer om eerder vir Kyrgios raak te slaan as om ’n punt te wen.

“Hy maak die heeltyd van boelie-taktiek gebruik om tenniswedstryde te wen en ek glo hy was self ’n boelie op skool. Ek het nie tyd vir sulke mense nie. Hy beskik weliswaar oor ’n paar goeie karaktereienskappe, maar hy het beslis ook ’n donker kant,” het Tsitsipas ná die afloop van die wedstryd gesê.

Op sy beurt het Kyrgios sy teenstander se bewerings afgelag.

“Ek sou ook ongelukkig gewees het as ek twee keer in ’n ry teen iemand verloor het. Dalk moet hy my eers wen voordat hy sulke dinge kwytraak.”

Baanbeamptes was ook in Kyrgios se visier tydens een van sy vorige wedstryde teen Paul Jubb.

Nadat ’n gryskop lynregter beslis het dat een van sy houe buite spel geland het, het die Australiër onderlangs gemompel dat “90-jariges nie meer die bal kan sien nie”.

Toe hy later daaroor uitgevra is, het hy aangevoer dat sy woorde buite konteks aangehaal is.

“Nee, ek het gesê dat die meeste van die skeidsregterspan ouerig is. Ek dink nie dit is ’n goeie idee in ’n sport waar daar so ’n klein marge tussen wen of verloor is nie. Ek het ’n bal geslaan en die ou man het gesê dit is buite spel, terwyl dit nie die geval was nie.  Argumentsonthalwe – as hy dalk 40 jaar oud was, sou hy moontlik nie só ’n beslissing gemaak het nie,” het Kyrgios gesê.

Uitslae:

Rafael Nadal klop Lorenzo Sonego met 6-1, 6-2 en 6-4

Nick Kyrgios klop Stefanos Tsitsipas met 6-7, 6-4, 6-3 en 7-6

Taylor Fritz klop Alex Molcan met 6-4, 6-1 en 7-6

Alex de Minaur klop Liam Broady met 6-3, 6-4 en 7-5

Botic van de Zandschulp klop Richard Gasquet met 7-5, 2-6, 7-6 en 6-1

Petra Martic klop Jessica Pegula met 6-2 en 7-6

Alizé Cornet klop Iga Swiatek met 6-4 en 6-2

Simona Halep klop Magdalena Frech met 6-4 en 6-1

Amanda Anisimova klop Coco Gauff met 6-7, 6-2 en 6-1

Harmony Tan klop Katie Boulter met 6-1 en 6-1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.