Kyrgios se droomlopie duur voort

Nick Kyrgios. Foto: Twitter.

Nick Kyrgios se droomlopie op die internasionale tennisbane duur voort nadat hy Alex de Minaur met 6-2 en 6-3 in Kanada oorrompel het.

Die Wimbledon-finalis en wenner van die Citi-ope in Washington DC het net 11 minute benodig om die eerste vier potte van die wedstryd te wen.

Kyrgios het ook vandeesweek met Daniil Medvedev afgereken en hy het gesê dat dit aanvanklik vir hom moeilik was om homself vir die De Minau-wedstryd te motiveer.

“Dit was moeilik – veral wat ’n mens se ingesteldheid betref – om weer te speel ná die onvergeetlike wedstryd teen Daniil. Ek en Alex is egter baie goeie vriende en dit is nooit maklik om teen iemand soos hy kragte te meet nie; boonop is hy ook ’n mede-Aussie.”

Dit was Kyrgios se negende enkelspelwedstryd in die afgelope tien dae en hy erken dat die vol skedule nou sy tol begin eis.

“Dit maak jou moeg, maar dit is alles deel van die spel. Ek mis my huis en ek het my ouers drie maande laas gesien. Ja, die verlange knaag, maar ek weet dit is nog net ’n paar toernooie voordat ek hulle weer kan sien.”

Hy speel later vandag in die kwarteindstryd teen Pole se Hubert Hurkacz.

Uitslae:

Nick Kyrgios klop Alex de Minaur met 6-2 en 6-3.

Dan Evans klop Taylor Fritz met 7-6, 1-6 en 7-5.

Felix Auger-Aliassime klop Cameron Norrie met 6-3 en 6-4.

Hubert Hurkacz klop Albert Ramos-Vinolas met 6-7, 6-2 en 7-6.

Casper Ruud klop Roberto Bautista Agut met 6-7, 7-6 en 6-4.

Beatriz Haddad Maia klop Iga Swiatek met 6-4, 3-6 en 7-5.

Jessica Pegula klop Camila Giorgi met 3-6, 6-0 en 7-5.

Simona Halep klop Jil Teichmann met 6-2 en 7-5.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Nick Kyrgios word beloon/geseën omdat hy die moed van sy oortuiging gehad het om by Novak te staan met die Covid-drama in Aus.
Die énigste speler, wat ‘n skreiende skande.
Wen nou die US Open, Nick!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.