Lando tuis agter die McLaren-stuur

Lando Norris. Foto: Mark Sutton/AFP.

Met die Monaco Grand Prix om die draai het die 21-jarige Engelsman, Lando Norris, die goeie nuus gehoor dat sy kontrak met McLaren verleng is.

Hy is tans vierde op die punteleer en is meer bestendig agter die stuur as sy spanmaat, die ervare Daniel Ricciardo.

“Ek is baie tevrede om my vennootskap met McLaren te verleng. Ek is al amper vyf jaar lank deel van die span en ek dink nie eers daaraan om die volgende hoofstuk van my loopbaan by enigiemand anders te begin nie,” het Norris gesê.

“My doelwit is eenvoudig: Ek wil wedrenne wen om sodoende die F1-wêreldkampioen saam met McLaren te word.”

Volgens Zak Brown, McLaren se uitvoerende hoof, is Norris een van die spilpunte waarom die motorvervaardiger se herlewing draai.

“Lando is een van die redes vir ons sukses en ons is trots op sy vordering sedert hy in 2017 by ons aangesluit het. Hy is een van F1 se blinkste sterre en ons sien daarna uit dat hy van krag tot krag gaan.”

Norris se potensiaal is reeds van vroeg in sy motorsportloopbaan sigbaar. In sy eerste twee seisoene het hy glad nie vir Carlos Sainz – wat sedertdien by Ferrari aangesluit het – teruggestaan nie.

Daarbenewens het hy ook gehelp dat McLaren in 2020 derde in die spanafdeling geëindig het – hul beste vertoning sedert Lewis Hamilton die span in 2012 vir Mercedes verlaat het.

Hy is ook die jongste Britse bestuurder ooit om op die podium te staan nadat hy verlede jaar derde oor die wenstreep in Oostenryk gejaag het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.