Langer as 300 weke as die wêreld se beste

Novak Djokovic. Foto: Oli Scarff/AFP.

Dit lyk asof wêreldtennis se rekords nie ’n kans teen Novak Djokovic staan nie.

Die 33-jarige Serwiër het verlede maand sy negende Australiese Ope-titel in Melbourne ingeoes en dit lyk asof daar binnekort nóg ’n rekord agter sy naam sal staan.

Hy is al vir 310 weke van sy loopbaan die wêreld se voorste tennisspeler; ’n eer wat hy met Roger Federer deel. Maar volgens ATP se jongste wêreldranglys het die Serwiër tans 12 030 punte opgestapel en die Switserse legende (6 630) is baie ver terug in sy truspieëltjie.

Rafael Nadal is die naaste speler aan Djokovic met sy 9 850 punte. Niemand gaan dus binne die volgende paar weke eens naby hom kom nie.

Die Serwiër was reeds vyf keer in sy loopbaan die wêreld se voorste speler en in daardie tydperk het hy 387 wedstryde gewen en slegs 53 verloor. In die proses het hy ook 117 keer met spelers afgereken wat onder die tien bestes op die internasionale verhoog tel.

Maar hierdie Federer-rekord gaan nie binnekort verbeter word nie: Hy was vir 237 agtereenvolgende weke die no. 1-speler. Daarteenoor was Djokovic se beste 122 agtereenvolgende weke – ’n rekord wat hy tussen 2014 en 2016 opgestel het.

  • Spelers wat vir die meeste weke die wêreld se beste speler was:
  1. Novak Djokovic en Roger Federer 310
  2. Pete Sampras 286 weke
  3. Ivan Lendl 270 weke
  4. Jimmy Connors 268 weke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.