Larrazábal op wildtuin se voorstoep vir oorwinning

Pablo Larrazábal in aksie. Foto: Alfred Dunhill Championship/Twitter

Die Spaanse golf is steeds besig om oor die Europese gholfreeks te spoel.

Ná die 26-jarige Spanjaard Jon Rahm se dubbeldoor-oorwinning verlede week in Doebai in die DP-wêreldkampioenskap en in die Wedloop na Doebai (om as Europa se beste speler gekroon te word), is sy Spaanse landgenoot Pablo Larrazábal besig om by Leopard Creek, neffens Malelane, die stang vas te byt in die Alfred Dunhill-kampioenskap, die eerste toernooi in 2020 se Europese reeks.

Die lowergroen baan op Leopard Creek, reg langs die Krugerwildtuin, en die hitte pas Larrazábal soos ʼn handskoen, want hy loop reeds van die tweede ronde af alleen voor.

Hy het Saterdag 70 in die derde ronde op sy telkaart ingevul, wat hom op 205 houe, 11 minder as die baansyfer, plaas.

Hy het vyf voëltjies in sy ronde aangeteken, maar ook op drie putjies houe aan syfer afgestaan om op twee houe minder (70) as baansyfer te eindig.

Larrazábal word gevolg deur die Nederlander Will Besseling, wat ná die eerste ronde alleen voor was. Besseling is op 208 een hou voor Suid-Afrika se Branden Grace (209).

Grace het op die 18de putjie (hoeveel keer het Suid-Afrikaners nie die afgelope ruk die kluts aan die einde kwytgeraak nie) ʼn hou aan syfer afgestaan, maar steeds op 69 geëindig.

Nog ʼn Suid-Afrikaner, Zander Lombard, en die Engelsman Marcus Armitage, is saam op 211 in die vierde plek.

Charl Schwartzel en MJ Viljoen (albei 212), Justin Harding (214), die amateur Jayden Trey Schaper, Richard Sterne, George Coetzee, Daniel van Tonder en Jaco van Zyl (almal op 216) klop ook nog aan die deur.

Larrazábal (36) wat in Barcelona gebore is, maar in die VSA op skool was, het in 2002 na Spanje teruggekeer om ʼn beroepsgholfspeler te word.

Maar aikôna, het sy pa gesê, hy moes eers ʼn jaar lank in Cantabria op die gesin se visplaas werk om die regte waardes, veral van geld, aan te leer.

Hy het in 2005 ʼn beroepspeler geword en het tot dusver vier toernooie in die Europese reeks gewen –  in 2008 die Franse Ope, in 2011 en weer in die 2015 die BMW-toernooie en 2014 die HSBC-toernooi.

Nou is hy op die wildtuin se voorstoep vir ʼn vyfde sege.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

Een kommentaar

Herman ·

Neewat sy lasterlike uitspraak teenoor ons skepper op 17 gister gan sy ondergang bewerkstellig hopelik sy toekoms ook nimand verdien dit omte oorleef as hy ons vader se woord ydelik gebruik nie hopelik word hy gestraf vir sy dade tot in ewgheid

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.