Lebo se lig brand vir sy medemens, Afrikaans

Lebo Ndlovu is altyd gereed met ’n glimlag. Foto: Verskaf.

Kom ons skryf ’n doodeenvoudige stelsin, maar een gelaai met baie betekenis en potensiaal: Lebo Ndlovu is ’n merkwaardige jong man.

Hy is oorspronklik van Lesotho afkomstig, maar in 2009 het sy lewenspad noodgedwonge die roete na die Kosmos Kriel Kinderhuis in Mpumalanga geneem.

En dit is daar waar sy inspirerende liefde vir die Here, sport, sy medemens én vir Afrikaans begin het.

“Ek het ’n Afrikaanse vriend in Kriel gehad – Kiewiet – en hy kon baie goed Zoeloe praat. Ons het elke aand bymekaargekom om stiltetyd te hou; hy het vir my sy Afrikaanse Bybel gegee om te lees en ek het vir hom my Zoeloebybel gegee. Só het hy my nie net Afrikaans geleer nie, maar my ook aan die Here voorgestel, want ek is in ’n omgewing gebore waar daar nie rêrig geglo is nie.”

By Hoërskool Middelburg het sy lewensverhaal nog ’n paar lekker hoofstukke bygekry.

“As ’n matrikulant van Hoërskool Middelburg is my boodskap dat Afrikaans onder my vel ingekruip het, want dit het my na God toe gebring. Mathews Phosa se woorde waarna ek elke dag in die Afrikaanse klas kyk, het volle betekenis in my lewe gekry. Hier by Hoërskool Middelburg is dit ’n taal van versoening, waar ons leerders oor kultuurgrense heen mekaar respekteer,” het hy destyds in die Middelburg Observer geskryf.

Hy het al ’n rits medaljes verower. Foto: Facebook.

Maar Ndlovu blink ook op die sportterrein uit en hy het in 2018 vier goue medaljes by die Wêreld- Taekwondo Ekspo in die VSA verower.

En die beste nuus is dat hy weer binnekort mag oefen.

“Ná die lekker eet van die afsonderingstydperk kan ons nie wag om weer te begin oefen nie. Ons gaan seker onder streng reëls byeenkom, maar dit pla glad nie, solank ons net kan oefen,” het hy in sy foutlose Afrikaans laat weet.

Jy hoef normaalweg nie lank te wag voordat Ndlovu sy spierwit glimlag te voorskyn bring nie. En gelukkig is dit vir hom maklik om homself gedurende die onsekere tyd van die Covid-19-era te motiveer.

“Met al die negatiewe dinge wat rondom ons gebeur, is dit die beste tyd om jouself te motiveer en net te onthou dat God se plan altyd die beste is.”

Volgens Ndlovu leer taekwondo jou dinge soos selfdissipline en selfverdediging, terwyl dit ongetwyfeld ook jou selfbeeld ’n hupstoot gee.

Natuurlik wil hy ook deur middel van sport vir ander van hulp wees.

“Ek wil nog baie mense se lewe positief aanraak en ek droom om eendag my eie sportakademie op die been te bring. Dan sal nog ’n vliegtuigkaartjie na die wêreldkampioenskap ook nie te versmaai wees nie.”

Op 21-jarige ouderdom beskik hy oor meer lewenservaring en -wysheid as die meeste mense twee keer sy ouderdom.

“In hierdie donker tydperk waarin ons tans verkeer, is dit tyd dat Suid-Afrikaners saam begin kerse opsteek om die nodige lig aan ander te verskaf wat moed verloor het. Ons moet daar wees vir mekaar en probeer om die positiewe in dinge raak te sien. Dit is nou die tyd om saam te staan.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stefan ·

Mooi man, ek wens daar was baie meer van jou soort.
Dan sou ons van hierdie land ‘n paradys gemaak het.

Elmarie ·

Ons ken hierdie prag seun. My seun en hy is maats. Soos hul hom in die berig beskryf is hy en 10 maal meer

LANA is ELANè ·

So lees iemand se storie wat nie politici toelaat om sy storie te skryf nie. ❤️❤️❤️

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.