Leclerc doen dit weer vir Ferrari

Ferrari se Charles Leclerc van Monaco nadat hy die Belgiese Formule Een-Grand Prix in 2019 gewen het. (Foto: Francisco Seco/AP)

Die man wat vroeg in die Formule 1-seisoen die pas aangee, Charles Leclerc, spring vanmiddag 15:00 Suid-Afrikaanse tyd in die eerste plek weg by die Spaanse Grand Prix.

Die Nederlander Max Verstappen was die vinnigste tot in die doodsnikke van die finale kwalifiseringrondes. Met die sekondes wat reeds tot nul afgetel is, het Leclerc die voorste wegspringplek vir Ferrari gegryp. Verstappen is in die tweede plek en Leclerc se spanmaat, Carlos Sainz, spring in die derde plek weg. Die Spaanse skare sal vandag baie van hul man, Sainz, verwag.

Terwyl Leclerc sy ronde voltooi het, het Verstappen oor die spanradio laat weet sy Red Bull het krag verloor en hy het sy laaste kans verspeel om vinniger as Leclerc te jaag.

Dit is die eerste keer dat Leclerc in Spanje voor wegspring. Dit is sy vierde voorste wegspringplek hierdie seisoen en die 13de van sy loopbaan.

George Russel (Mercedes) spring in die vierde plek weg met Sergio Perez in die ander Red Bull in die vyfde plek. Sewemalige wêreldkampioen Lewis Hamilton spring in die sesde plek weg in die ander Mercedes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.