Leclerc: ‘Mercedes kan wedrenne wen, maar nie kampioenskap’

Ferrari se Charles Leclerc. Foto: Twitter.

Charles Leclerc is tans die voorloper op die jaerspunteleer, terwyl Ferrari ook die septer onder die vervaardigers swaai.

Die 24-jarige Monte Carlo-boorling het vanjaar reeds twee wedrenne  gewen, terwyl hy tweede in Saoedi-Arabië klaargemaak het.

Boonop het iemand soos Max Verstappen, die verdedigende wêreldkampioen, respek vir sy teenstander se vernuf agter die stuur, terwyl hy ook al vantevore die Ferrari se spoed om draaie geloof het.

Daarteenoor is Mercedes se aanloop tot die seisoen ’n bietjie minder rooskleurig: Hulle is derde op die vervaardigerspunteleer (maar baie punte agter Ferrari en Red Bull), terwyl Lewis Hamilton sukkel om by die voorlopers kers vas te hou.

Ja, hy was al op die podium, maar dit was grotendeels te danke aan die feit dat Verstappen nie die wedren kon voltooi nie.

Tog moet daar nog baie water in die see loop en Leclerc glo dat die Mercedes-manne inderdaad ’n wedren of twee sal wen.

Maar ’n agtste wêreldtitel vir Hamilton of ’n eerste vir George Russell is darem ’n bietjie te dik vir ’n daalder.

“’n Mens kan Mercedes nooit afskryf nie, want hulle is ’n baie sterk span en hulle het al vantevore gewys waartoe hulle in staat is. Maar dit is ook ’n feit dat hulle nou sukkel en dit gaan seker ’n rukkie wees voordat hulle weer op alle suiers vuur,” het Leclerc in ’n onderhoud met CNN gesê.

“Hulle mag dalk nie die kampioenskap wen nie, maar ek is doodseker daar wag ’n paar podiumplekke op die span.”

Volgens die jong renjaer werk Ferrari hard om hul voorsprong op die puntelere te behou.

“Dít is ’n droombegin vir ons. Voorheen het dinge dalk nie heeltemal volgens plan verloop nie, maar ons het aanhou veg en nooit opgehou om te glo nie.”

Dit is hierdie naweek tyd vir die heel eerste wedren in Miami. Die aksie begin Sondag om 19:30 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Jaerspunteleer:

  1. Charles Leclerc: 86 punte
  2. Max Verstappen: 59 punte
  3. Sergio Perez: 54 punte
  4. George Russell: 49 punte
  5. Carlos Sainz: 38 punte
  6. Lando Norris: 35 punte
  7. Lewis Hamilton: 28 punte
  8. Valtteri Bottas: 24 punte
  9. Esteban Ocon: 20 punte
  10. Kevin Magnussen: 15 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Ferrari: 124 punte
  2. Red Bull: 113 punte
  3. Mercedes: 77 punte
  4. McLaren: 46 punte
  5. Alfa Romeo: 25 punte
  6. Alpine: 22 punte
  7. Alphatauri: 16 punte
  8. Haas: 15 punte
  9. Aston Martin: 5 punte
  10. Williams: 1 punt

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.