Leclerc sê meer woema wink vir Ferrari

Carlos Sainz en Charles Leclerc saam op die podium. Foto: Twitter.

Ná twee wedrenne, in Bahrein en Saoedi-Arabië, is Ferrari ongetwyfeld besig om die F1-septer met al meer selfvertroue te swaai.

Die span is eerste op die vervaardigerspunteleer, terwyl Charles Leclerc en Carlos Sainz se vurige vertonings vir Max Verstappen op sy tone hou en Lewis Hamilton in sy Mercedes nog nie by hulle kan byhou nie.

Nou meen Leclerc dat die Ferrari-renjaers nóg vinniger en beter kan word soos wat die seisoen vorder.

“Ek is tans baie tevrede met hoe sake tans staan, maar daar is beslis dinge waaraan ek nog kan werk. Ek weet egter presies wat om te doen en die kanse is goed dat ons selfs beter kan vertoon,” het die Monaco-boorling gesê.

Dit is nog baie vroeg in die seisoen – die uiteindelike silwerware word immers nie na net twee wedrenne omhoog gehou nie – terwyl Verstappen ook weer op die wenpad is ná sy vertoning in Saoedi-Arabië.

Die verdedigende wêreldkampioen is egter beïndruk met die Ferrari’s se spoed om die draaie en sy tweestryd met Leclerc is deesdae die groot F1-nuus.

Die Ferrari-man weet egter dat daar nog baie harde werk op die span wag.

“Ek glo die renjaers moet saam met die tegniese span werk om mededingend te bly. Ek kan nie met sekerheid sê wie die wêreldkampioenskap gaan wen nie, maar ek is baie tevrede met Ferrari se aanloop tot die seisoen.”

Leclerc (45 punte) en Sainz (33 punte) is tans die voorlopers op die jaerspunteleer, gevolg deur Verstappen (25 punte) en George Russell (22 punte).

Hamilton is tans in die vyfde plek met sy 16 punte.

Die Australiese Grand Prix begin Sondag om 07:00 in Melbourne en oudergewoonte sal die aksie regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Janine ·

Ek hoop hamilton sien weereens sy agterent. As ‘n Ferrari ondersteuner, hoop ek natuurlik dat hulle wen, maar Verstappen is ‘n fantastiese bestuurder!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.