Leclerc skop stof in Bottas en Hamilton se oë

Charles Leclerc (middel) saam met Valtteri Bottas (links) en Lewis Hamilton. Foto: (AP Photo/Antonio Calanni)

Die 21-jarige Charles Leclerc (Ferrari) het Sondag op Monza nie net sy tweede agtereenvolgende Formule Een-Grand Prix meesterlik gewen nie, maar sy ervare spanmaat, Sebastian Vettel, erg in die skadu gestel.

Lerclerc was eerste in die Italiaanse Grand Prix in ʼn wentyd van 1:15:26:655 nadat hy ʼn verwoede aanslag eers van Lewis Hamilton en later ook Valtteri Bottas (albei Mercedes) moes afweer.

Bottas was tweede (+0.835 sekondes agter Leclerc) met Hamilton derde (+35.199), gevolg deur Daniel Ricciardo en Nico Hulkenberg (albei Renault) en Alex Albon (Red Bull).

Vettel het reeds in die sewende ronde die kluts kwytgeraak nadat hy van die baan gejaag het. Hy het blindelings probeer terugkeer, maar het voor Lance Stroll ingejaag.

Vettel het sy motor se voorste drukvlerk beskadig en is onmiddellik kuipe toe, maar hy is hierna ook met 10 sekondes (stop-en-wegtrek) gestraf en was toe heel laaste.

Hy het uiteindelik 13de geëindig en is ʼn paar rondes voor die einde ook deur die voorlopers ingehaal en verbygesteek. Hy kon dus geen bydrae lewer nie om op Ferrari se tuisbaan sy span te beskerm nie.

Ferrari-ondersteuners vier Leclerc se oorwinning. Foto: Le (AP Photo/Luca Bruno)

Leclerc het daarenteen die duisende vlagswaaiende plaaslike ondersteuners waarde vir hul geld gegee toe hy die eerste Ferrari-jaer sedert 2010 geword het, toe Fernado Alonso ook eerste was, wat ʼn oorwinning vir sy span op Monza beklink het.

Hy was onder groot druk van Hamilton, maar het deurgaans kopgehou. Hy was weliswaar gelukkig om nie gestraf te word nie nadat Hamilton hom wou verbysteek. Leclerc het hom uitgedruk, maar die beamptes het anders besluit en hom net met ʼn swart-en-wit-vlag (dieselfde as ʼn niksseggende geelkaart in sokker) berispe en hy kon ongeskonde voortjaag.

Bottas het ʼn tweede keer by die kuipe aangedoen om met mediumgrootte bande voort te jaag en hoewel hy baie na aan Leclerc gekom het, was hy nie in staat om die nekslag toe te dien nie.

Bottas het Hamilton vroeër verbygesteek nadat die Brit se sagte bande verweer het.

Hamilton (268 punte) is steeds gerieflik voor Bottas (203) op die kampioenskapspunteleer, gevolg deur Max Verstappen (181), Vettel (169) en Leclerc (157).

Maar ná Sondag se ren is daar geen meer twyfel nie, die jong Leclerc, en nie meer Vettel nie, is die nuwe gesig van Ferrari.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos ·

Bottas op mediumgrootte bande? Vettel op Large en Hammilton op XLarge? Of dalk mediumharde bande? LOL.
Le Clerc is ‘n kampioen in wording, en dit maak my opgewonde, want oor minder as 5 jaar gaan daar groot kompetisie wees tussen die jong ryers.

Prinsloo Potgieter ·

Die punte aan die einde van die berig is foutief. Leclerc is nou voor Vettel (169) op 182 as gevolg van die wen. Max is op 185, Bottas op 221 en Lewis op 284.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.