Leë stadions voorlopig Aussie Ope se voorland

Foto: William West/AFP.

Suid-Afrika se Lloyd Harris sal môre sy Australiese Ope-veldtog in ’n leë stadion moet voortsit wanneer hy teen die VSA se MacKenzie McDonald in die derde ronde van die jaar se eerste Grand Slam in Melbourne te staan kom.

’n Nuwe vlaag Covid-19-gevalle het organiseerders van die toernooi genoop om voorlopig wedstryde agter geslote deure aan te bied.

Terselfdertyd sal die spelers se bio-veiligheid weer eens opgeskerp word en die plaaslike Victoria-regering het beslis dat vyf miljoen van Melbourne se inwoners vir die derde keer in die Covid-19-era ingeperk sal word.

Die staat van inperking sal vir vyf dae duur.

Hierdie toedrag van sake kom nadat 13 persone by ’n hotel positief getoets het vir die sogenaamde Britse variant van Covid-19.

Volgens Daniel Andrews, premier, is hierdie maatreëls noodsaaklik om die virus in die kiem te smoor.

“Ek is vol vertroue dat hierdie maatreëls doeltreffend sal wees. Ons sal nie toelaat dat dinge buite beheer raak nie,” het Andrews gesê.

Craig Tiley, toernooi-direkteur, het egter die versekering gegee dat die wedstryde sal voortgaan en dat die spelers die jongste verwikkelinge aanvaar het.

Maar die sielkundige vereistes van ’n bio-veilige omgewing kan uitmergelend vir spelers wees.

“Dit is taai. Ons almal het ’n rowwe tyd agter die blad,” het Serena Williams gesê.

Dié wenner van 23 Grand Slam-titels het gesê dat die spelers ongetwyfeld die ondersteuners sal mis.

“Die omstandighede is beslis nie na wense nie en dit was baie lekker om die ondersteuners weer terug langs die baan te hê. Op die ou einde moet ons egter die regte ding doen.”

Daar was aanvanklik meer as 20 000 toeskouers per dag by die wedstryde. Dit was die meeste ondersteuners wat nóg in die Covid-19-era by ’n tennistoernooi toegelaat was.

  • ’n Paar van die uitslae:

Rafael Nadal klop vir Michael Mmoh met 6-1, 6-4 en 6-2

Andrey Rublev klop vir Thiago Monteiro met 6-4, 6-4 en 7-6

Stefanos Tsitsipas klop vir Thanasi Kokkinakis met 6-7, 6-4, 6-1, 6-7 en 6-4

Serena Williams klop vir Anastasia Potapova met 7-6 en 6-2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.