Lefébre en kie wen in Engeland

Lefébre Rademan (voor, heel links) saam met haar Celtic Dragons-spanmaats. Foto: Twitter.

Lefébre Rademan, een van die Proteas se gewildste spelers, het saam met haar Celtic Dragons-spanmaats hul eerste oorwinning in vanjaar se Vitality-netbalreeks gesmaak toe hulle gisteraand die Severn Stars met 58 – 42 geklop het.

Haar droom om die Proteas by die komende Statebondspele te verteenwoordig is goed op koers nadat sy vroeër saam met Ine-Marí Venter in die vierhoekige reeks teen Nieu-Seeland, Australië en Engeland in die doelsirkel diens gedoen het.

“Ek sal eendag onthou wil word as ’n speler wat haar hart uitgespeel het en die beste vir haar span gegee het; iemand wat na die beste streef,” het Rademan in ’n vorige onderhoud met Maroela Media gesê.

In ander wedstryde het Venter en die Saracens Mavericks met 71 – 47 teen Loughborough Lightning vasgeval.

Venter is tans verantwoordelik vir die tweede meeste doele in die reeks (259) en sy was met 28 doelpogings in die kol teen die Lightning.

Haar Protea-spanmaat Zanele Vimbela speel vir die Loughborough-span.

Dan was Shadine van der Merwe se Manchester Thunder (57 – 53 teen Bath) en Sigi Burger se Leeds Rhinos (44 – 43 teen Wasps) ook aan die wenkant.

Die Statebondspele word vanaf 28 Julie in Birmingham beslis en volgens Van der Merwe moet die Protea-aanslag nie onderskat word nie.

“Ons word gereeld as die buiteperd-span beskou, maar ons kan tot die laaste minuut van ’n wedstryd bly veg. Daar word tans oefenkampe in Suid-Afrika gehou en dit is goed as die spelers gereeld byeenkom om hulle vir die Spele voor te berei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.