Lefébre se jong loopbaan reeds ’n hoogtepunt

Lefébre Rademan en haar Crinums-spanmaats vier hul oorwinning in die halfeindstryd van die Telkom-toernooi. Foto: Verskaf.

Lefébre Rademan het skaars ’n maand of wat gelede haar 24ste verjaardag gevier. Maar die blondekop-netbalspeler se lewensdagboek moet reeds amper volgeskryf wees te danke aan al haar sporthoogtepunte

Daar was die SA o. 18-avontuur in haar matriekjaar, die toekenning as die Varsitybeker se beste speler en haar Proteas-buiging teen Lesotho – ’n wedstryd wat die Suid-Afrikaners gemaklik met 106 – 10 gewen het.

Daarbenewens speel sy en haar Free State Crinums-spanmaats vanaand teen die Gauteng Jaguars in die eindstryd van die Telkom Netballiga in Bloemfontein.

En soos altyd sal sy een van die Vrystaters se gevaarspelers in die doelsirkel wees.

Maar vreemd genoeg het sy nie altyd die doelbeffie oor haar kop getrek nie. Die Riversdal-boorling vertel dat sy op skool eerder as ’n hulpverdediger ingespan is.

Foto: Verskaf.

“In graad 11 en 12 (daar by Hoërskool Langenhoven) het ek meer begin senter speel omdat ek skielik te kort vir ’n verdediger was. In my eerste jaar op universiteit in Bloemfontein het ek as ’n hulpdoel begin oefen. Maar ek was nog altyd lief vir hierdie posisie; selfs op skool,” het sy aan Maroela Media gesê.

Rademan het onderwys aan die Universiteit van die Vrystaat studeer en enige talentvolle juffrou wat die Proteas op die netbalbaan verteenwoordig het, sal haar gewig in goud vir ’n skool werd wees. Tog, ten spyte van die sukses op die akademiese en sportverhoog, is sy die nederigheid van self.

“Netbal het my al so baie dinge geleer. Maar ek glo altyd dat harde werk beloon sal word en soos wat my ouma Lefébre altyd vir my sê: ‘Hou jou voete vierkantig op die grond’.”

Daar is ’n eenvoudige rede waarom sy van die sportsoort hou.

“Ek dink dit is ’n opwindende en vinnige spel en daar word gereeld punte aangeteken. Dit is eenvoudig om te verstaan en dit maak dit lekker vir almal om te kyk en selfs te speel.”

As sportvrou hou sy van ’n uitdaging en gedurende verlede jaar se Telkom-toernooi het sy met ’n rits speler van die wedstryd-toekennings weggestap, terwyl meer as 200 van haar doelpogings suksesvol was.

Raak sy ooit op haar senuwees in die doelsirkel?

Foto: Verskaf.

“Ja, ongetwyfeld. Dit is nie verniet een van die meer uitdagende posisies nie, maar dit is waarvoor ons oefen en voorberei. Netbal gaan immers daaroor om doele aan te teken,” vertel sy laggend.

Haar netbaldroom is om die Proteas by die volgende Statebondspele in 2022 en die Wêreldbeker-netbaltoernooi in 2023 te verteenwoordig.

“Ek sal eendag onthou wil word as ’n speler wat haar hart uitgespeel het en die beste vir haar span gegee het; iemand wat na die beste streef.”

Netbalondersteuners kan dus gerus vir Lefébre Rademan ’n ekstra dagboek aanskaf – daar wink nog baie hoogtepunte op die horison om neer te pen.

  • Die Telkom-eindstryd word vanaand om 19:00 beslis. Die aksie sal regstreeks op SuperSport (kanaal 209) uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.