Legendariese Amerikaanse voetbalafrigter sê nee vir Trump-toekenning

Bill Belichick (links) het aan pres. Donald Trump ’n spesiale trui oorhandig toe die New England Patriots die Super Bowl in 2017 gewen het. Foto: Saul Loeb/AFP.

Bill Belichick, hoofafrigter van die New England Patriots, het pres. Donald Trump van die VSA se presidensiële medalje van vryheid van die hand gewys.

Die 68-jarige Belichick, wat al ses Super Bowl-titels saam met die Patriots gewen het en as die beste Amerikaanse voetbalafrigter nóg bestempel word, het gesê dat die onlangse gebeure in Washington ’n invloed op sy besluit gehad het.

Betogers, hoofsaaklik Trump-ondersteuners, het verlede week die kongresgebou (Capitol) in Washington DC bestorm.

Volgens Belichick was hy gevlei om vir die eerbetoon benoem te word, maar dat hy besluit het om nie die toekenning in ontvangs te neem nie.

Die presidensiële medalje van vryheid is die VSA se hoogste burgerlike eerbewys.

“Bowenal is ek ’n Amerikaanse burger met respek vir ons land se waardes, vryheid en demokrasie. Terselfdertyd verteenwoordig ek ook my gesin en die New Patriots-span,” het Belichick in ’n verklaring gesê.

Bill Belichick. Foto: Adam Glanzman/Getty Images/AFP.

“Een van die lonendste dinge in my beroepsloopbaan het verlede jaar plaasgevind toe ons span se gesprekke oor sosiale geregtigheid, gelykheid en regte in aksie oorgeslaan het. Hierdie voortgesette pogings, terwyl ek getrou bly aan die mense en die land waarvoor ek so lief is, het baie meer waarde as enige individuele toekenning.”

Belichick het wel in die verlede ’n brief aan Trump geskryf om hom met sy presidensiële veldtog van 2016 geluk te wens.

Trump het ook verlede week Suid-Afrika se Gary Player en Swede se Annika Sörenstam met die presidensiële medalje van vryheid vereer.

Die 85-jarige Player, wat as een van die wêreld se voorste gholfspelers ooit bestempel word, is deur sommiges gekritiseer omdat hy die toekenning aanvaar het.

Sy seun Marc het onder meer gesê dat sy pa pleinweg moes weier om die eerbetoon in ontvangs te neem.

“Ek wens regtig dat my pa op hierdie oomblik die ‘toekenning’ eenvoudig en beleefd van die hand gewys het,” het hy op Twitter geskryf. “Toondoof. In ontkenning. Verkeerd,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pieter ·

Die klomp klink meer na klomp kinders as wat werklik moet gebeur. Nou is ek regtig trots op Oom Gary Player.- n Man met inborste wat nie die wereld se dinge hom lei om besluite te neem nie, maar hy self besluit.

Johannes ·

Hierdie afrigter het karakter! Trump is ‘n bombastiese dwaas en alle Christene behoort hulleself van hom te distansieeer!

Chrisp ·

Jip.
Soos die demokrate “christene” aldus pro aborsie “christene” seker?
Jy weet mos die wat vir aborsies is selfs kort voor geboorte.

Ongelooflik!

Eend Bessinger ·

Ja nee ek sou ook vir Trump ‘n middelvinger gegooi het.

Piet ·

Siestog, die oranje nar se maatjies wil nie meer by hom speel nie. Dankie Belichick, dis die regte keuse. Die man moet in die Withuis toe gesluit word weg van mense tot hy uit gesmyt word later die maand

Alexander ·

Aai Johannes, jou onkunde is kommerwekkend. Trump is dalk bombasties, maar hy is nie skaam om te erken dat hy ‘n christen is nie. Joe Biden dryf ‘n openlike satanistiese agenda. So wie ondersteun jy nou eintlik, die christen of die satanis?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.