Lenize lewer vuurwarm spel in Australië

Lenize Potgieter. Foto: Verskaf.

Lenize Potgieter, die Protea-doel, was op haar stukke in die Adelaide Thunderbirds se oorwinning (51 – 44) oor die Sunshine Coast Lightning in Australië se Suncorp-netballiga.

Sy was in die kol met 36 van haar 37 doelpogings.

Potgieter het vroeër in die seisoen met ’n ligte kniebesering gesukkel, maar sy is nou weer op haar aanvallende beste en haar seisoen het reeds 197 doele opgelewer.

Die lenige doelspeler het destyds ’n deurslaggewende rol in die Proteas se spogvertoning teen Jamaika in die 2019-Wêreldbekertoernooi gespeel.

Haar tien suksesvolle doelpogings in die eerste kwart het die grondslag vir die oorwinning van 55 – 52 gelê.

“Ek wil een van die beste doelspelers ter wêreld word,” het sy in ’n vorige onderhoud met Maroela Media gesê.

Vreemd genoeg was dit nie ’n doel vir die Proteas, die Adelaide Thunderbirds of vir die Universiteit van Pretoria wat vir die lekkerste herinnering sorg nie; aikôna, daardie eer word aan een van haar doele vir die Hoërskool Menlopark in Pretoria toegeskryf.

“Ons het teen Hoërskool Waterkloof in die kwarteindstryd van die Noordvaal-reeks gespeel. In bykomende tyd was daar ’n valbylstryd; die span wat eerste ’n doel aanteken, sou die wedstryd wen. Ek het my eerste poging misgeskiet, maar gelukkig het ek die daaropvolgende strafdoel gesink sodat ons die wedstryd kon wen.”

  • Suncorp-punteleer:
  1. Fever: 24 punte
  2. Vixens: 24 punte
  3. Firebirds: 16 punte
  4. Giants: 16 punte
  5. Thunderbirds: 12 punte
  6. Magpies: 12 punte
  7. Swifts: 12 punte
  8. Lightning: 12 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.