Lenize mis selde een van haar doelwitte

Die Proteas se Lenize Potgieter. Foto: Verskaf.

Dit is die groepfase van die Wêreldbeker-netbaltoernooi in Liverpool en die Proteas meet teen Jamaika kragte.

Die drukkokernaald is besig om in die rooi te gaan en die Suid-Afrikaners is op die rand van ’n geskiedkundige sege. So tussendeur die heldedade van Karla Pretorius (wat as die speler van die wedstryd aangewys is) en Bongi Msomi (kaptein) staan Lenize Potgieter.

Die lenige doelspeler het senuwees van staal getoon en sommer so met die intrapslag elkeen van haar tien doelpogings in die eerste kwart gesink. Haar kookwater-vertoning het die grondslag vir die Proteas se spogsege van 55 – 52 gelê; dit was slegs die derde keer wat die Suid-Afrikaners die eilandmeisies kon wen.

“Ek was nog altyd baie op my senuwees vóór ’n wedstryd, maar ek probeer dat dit nie die oorhand kry wanneer ek in die doelsirkel is nie,” het sy aan Maroela Media gesê.

Foto: Verskaf.

Vreemd genoeg was dit nie ’n doel vir die Proteas, die Adelaide Thunderbirds of vir die Universiteit van Pretoria wat vir die lekkerste herinnering sorg nie; aikôna, daardie eer word aan een van haar doele vir die Hoërskool Menlopark in Pretoria toegeskryf.

“Ons het teen Hoërskool Waterkloof in die kwarteindstryd van die Noordvaal-reeks gespeel. In bykomende tyd was daar ’n valbylstryd; die span wat eerste ’n doel aangeteken het, sou die wedstryd gewen het. Ek het my eerste poging misgeskiet, maar gelukkig het ek die daaropvolgende strafdoel gesink sodat ons die wedstryd kon wen.”

Sy het al eersterangse netbal in Australië en in Engeland gespeel en vertel dat die ondervinding baie tot haar ontwikkeling as speler bydra.

“Hier in Suid-Afrika kry ons nie altyd die geleentheid om teen die bestes ter wêreld te oefen nie, terwyl ons oorsee wel so ’n kans kry. Om met van die voorste internasionale spelers skouers te skuur, maak beslis van jou ’n sterker speler.”

Die feit dat sy 1,88 m in haar sokkies staan, help haar beslis in die doelsirkel.

“Dit is ongetwyfeld ’n voordeel, maar wanneer jy rats en slim op die baan kan speel, is lengte nie die bepalende faktor nie.”

Sy sal graag by nog ’n Statebond-kampioenskap in aksie wil wees, maar daar is een doelwit waarvoor sy bereid is om vrek hard voor te werk.

“Ek wil een van die beste doelspelers ter wêreld word.”

Sy wil een van die beste doelspelers ter wêreld word. Foto: Verskaf.

Nodeloos om te sê het sy ’n baie sterk ondersteunersbasis; van spanmaats tot vriende. Sy sonder egter haar ouers – Evert en Heleen – uit.

“Hulle het alles binne hul vermoë gedoen sodat ek kan netbal speel. Hulle is my grootste ondersteuners en ek wil hulle net trots maak.”

In die afsonderingstydperk oefen sy steeds gereeld en doen wat sy kan om haar fiksheid- en vaardigheidsvlakke op die hoogste standaard te hou.

“Ek wil eendag onthou word as iemand wat oor emmersvol deursettingsvermoë beskik en altyd ander te probeer help waar ek kan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.