Letchen kan met ’n medalje huiswaarts keer

Letchen du Plessis. Die CrossFit-spele is van 3 tot 7 Augustus in die VSA.  Foto: Verskaf.

Letchen du Plessis sal vir die tweede agtereenvolgende jaar sorg dat die Suid-Afrikaanse vlag trots in Madison, Wisconsin, wapper wanneer sy weer eens deel van die aksie by die CrossFit-spele is.

Die jong Pretorianer het verlede jaar tweede in die sport se Adaptive-kategorie geëindig.

“Ek is ongelooflik opgewonde en ek het baie harde werk agter die blad, maar die geleentheid om weer deel te neem maak alles die moeite werd,” het sy gesê.

Sy het in 2017 haar heup op die netbalbaan beseer en ná een van vele operasies is distonie by haar gediagnoseer – ’n neurologiese toestand wat onwillekeurige sametrekking en spasma van die spiere veroorsaak.

Sy sukkel met die heupbuigspiere van haar een sy en moet gevolglik met krukke hardloop. By verlede jaar se Spele is daar egter aan haar gesê dat sy nie met die hulpmiddel mag hardloop nie en sy moes die hardloopgedeelte van die eerste oefensessie op een been voltooi.

Dinge lyk egter nou baie meer belowend vir die komende fiksheidsavontuur en ’n splinternuwe ortopediese stut sorg vir ’n huppel in die stap.

“’n Maatskappy (Thuasne) het my genader nadat ek die Wodapalooza-kompetisie in Miami gewen het en hulle was vas oortuig dat hulle my sou kon help. Ek het onlangs die stut in ontvangs geneem en ek kon vir die eerste keer sedert 2017 hardloop!”

So van Wodapalooza gepraat, sy het toe vier van die vyf fiksheidstoetse gewen om uiteindelik haar naaste teenstander met meer as 50 punte te klop.

Foto: Verskaf.

Wat voorbereidingswerk betref, het sy geen klagtes nie; dit gaan trouens ongelooflik goed.

“Ek is beslis nou die sterkste en fiksste wat ek nóg in my lewe was en ek sien daarna uit om die vrugte van my harde werk te pluk.”

Verlede jaar het sy die silwer medalje by die Spele ingeoes; vanjaar sal sy probeer om met die goue medalje huiswaarts te keer.

  • Indien jy meer van Letchen en haar reis na Madison wil weet, besoek gerus die BackaBuddy-bladsy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.