Lewis glo hy kan Max nou lees

Max Verstappen en Lewis Hamilton. Foto: Lluis Gene/AFP.

Ná Lewis Hamilton se goeie sege in die Spaanse Grand Prix in Barcelona het hy gesê dat hy nou baie meer vertroud met Max Verstappen se vaardighede agter die stuur is.

Die 36-jarige Hamilton en sy Mercedes-span het die vrugte van hul kuipstop-strategie gepluk en die Brit het die 98ste oorwinning van sy loopbaan behaal.

Maar vir die grootste gedeelte van die wedren moes hy in die bakwerk van Verstappen se Red Bull-renmotor vaskyk en volgens die wêreldkampioen was dit hoegenaamd nie ’n slegte ding nie.

“Dit was ’n baie goeie dag. Ek het vandag baie van Max geleer; waarskynlik meer as in al die vorige wedrenne saam,” het Hamilton aangevoer.

Hoewel die wêreldkampioen nie veel wou uitbrei oor wat presies hy wyser geword het nie, het hy gesê dat ’n mens lekker kennis kan versamel as jy weet waarna om te kyk.

“Ek was op sy spoor en het baie dinge geleer oor sy motor en hoe hy dit gebruik.”

Ná gister se aksie het Hamilton nou 94 punte op die punteleer, gevolg deur Verstappen in die tweede plek met 80 punte.

Maar benewens Hamilton se vermoë agter die stuur, sy kragtige renmotor en Mercedes se slim strategieë, is daar steeds baie wat meen dat Verstappen die meer talentvolle bestuurder is.

Nelson Piquet, die voormalige F1-wêreldkampioen, het in ’n onderhoud gesê dat Verstappen vir Hamilton sou ore aansit indien hulle al twee agter die stuur van ’n Mercedes sou klim.

“As Max vir Mercedes gejaag het, is ek daarvan oortuig dat hy vir Lewis ’n ding of twee sou wys,” het Piquet vir Motorsport.com gesê.

“Max is baie meer aggressief. Natuurlik maak hy dan meer foute, maar ek glo dat hy beter as Lewis is.”

  • Hoe die F1-punteleer lyk:
  1. Lewis Hamilton (Mercedes) 94 punte
  2. Max Verstappen (Red Bull) 80 punte
  3. Valterri Bottas (Mercedes) 47 punte
  4. Lando Norris (McLaren) 41 punte
  5. Charles Leclerc (Ferrari) 40 punte
  6. Sergio Perez (Red Bull) 32 punte
  7. Daniel Ricciardo (McLaren) 24 punte
  8. Carlos Sainz (Ferrari) 20 punte
  9. Esteban Ocon (Alpine) tien punte
  10. Pierre Gasly (Alphatauri) agt punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.