Die Formule Een Grand Prix van Azerbaidjan is Sondag in Bakoe gejaag. Dit was die vierde wedren van die 2018-seisoen. Lewis Hamilton (Mercedes) het die wedren, wat vol opwinding en gebeure was, gewen met Kimi Raikkonen (Ferrari) tweede en Sergio Perez het in sy Force India derde.
Die twee voorlopers op die punteleer, Sebastian Vettel en Lewis Hamilton, het onderskeidelik die eerste twee posisies op die wegspringrooster ingeneem. Dit was boonop Vettel se derde agtereenvolgende keer dat hy eerste op die wegspringrooster in Bakoe was.
Wegspringrooster:
Pos | Renjaer | Span | Tyd |
1 | Sebastian Vettel | Ferrari | 1:41.498 |
2 | Lewis Hamilton | Mercedes | 1:41.677 |
3 | Valterri Bottas | Mercedes | 1:41.837 |
4 | Daniel Ricciardo | Red Bull | 1:41.911 |
5 | Max Verstappen | Red Bull | 1:41.994 |
6 | Kimi Raikkonen | Ferrari | 1:42.490 |
7 | Esteban Ocon | Force India | 1:42.523 |
8 | Sergio Perez | Force India | 1:42.547 |
Met die wegspring van die straatren het die voorste jaers almal hul posisies behou totdat daar ʼn ongeluk in die eerste ronde was. Raikkonen was ook betrokke en moes die kuipe besoek vir ʼn nuwe neuskegel vir sy Ferrari. Die veiligheidsmotor is ontplooi terwyl die baan skoongemaak is.
Met die hervatting van die wedren het Red Bull se Daniel Ricciardo en Max Verstappen gesukkel terwyl Renault se Carlos Sainz en Nico Hulkenberg na die vierde en vyfde plekke opgeskuif het. Hulkenburg was egter kort hierna uit die wedren nadat sy motor met ʼn muur kontak gemaak het.
Tydens die eerste helfte van die wedren was Vettel (Ferrari) en Hamilton (Mercedes) steeds in die eerste en tweede posisies. Valterri Bottas het bestendig gejaag en was deurentyd derde met Max Verstappen en Daniel Ricciardo van Red Bull wat vierde en vyfde was.
Die baan-temperatuur het tydens die wedren afgeneem en van die motors het die ultra-sagte bande opgesit tydens hul besoek aan die kuipe. Bottas het die voortou geneem terwyl die ander renjaers hul bande geruil het.
In die 40ste van 51 rondes het die twee spanlede van Red Bull, Verstappen en Ricciardo, in mekaar vasgejaag en vir albei het die wedren tot ‘n einde gekom. Die veiligheidsmotor was weer uit en Bottas het in hierdie tyd die kans geneem om sy bande te vervang en steeds die eerste plek te behou. Raikkonen het ná die Red Bull-ongeluk opgeskuif na die vierde plek.
Die wedren is in die 47ste ronde hervat. Vettel het laat gerem in ʼn draai en het teruggesak na die vierde plek. Bottas het ʼn pap wiel gekry en sy spanmaat Hamilton het die voortou geneem. Raikkonen was tweede en Sergio Perez het in sy Force India ook by Vettel verby geskuif.
Hamilton het tot aan die einde voor gejaag met Raikkonen tweede en Perez derde. Vettel kon net vierde eindig.
Lewis Hamilton is nou die nuwe voorloper op die punteleer.
Pos | Renjaer | Span | Punte |
1 | Lewis Hamilton | Mercedes GP | 70 |
2 | Sebastian Vettel | Ferrari | 66 |
3 | Kimi Raikkonen | Ferrari | 48 |
4 | Valtteri Bottas | Mercedes GP | 40 |
5 | Daniel Ricciardo | Red Bull | 37 |
6 | Fernando Alonso | McLaren | 28 |
7 | Nico Hulkenberg | Renault | 22 |
8 | Max Verstappen | Red Bull | 18 |
9 | Sergio Perez | Force India | 15 |
10 | Carlos Sainz | Renault | 13 |
Klik hier vir meer inligting.