Lewis meen Mercedes-enjins gaan weer brul

Lewis Hamilton. (Foto: Kenzo Tribouillard/AFP)

Lewis Hamilton mag dalk volgende jaar agter die stuur van ʼn Ferrari-renmotor inskuif, maar hy meen dat Mercedes goed genoeg is om weer met kampioenskapstitels in die toekoms te spog.

“Ek is opgewonde oor die jaar en ek weet dat die span nog ʼn kampioenskap kan wen. Ek is trots om te weet dat ek deel is van ʼn algehele suksesverhaal,” het die 39-jarige Brits gesê.

Die sewemalige wêreldkampioen het tussen 2014 en 2020 die F1-septer geswaai, maar sedert Max Verstappen sy eerste wêreldtitel in 2021 ingeoes het, sukkel hy saam met die ander renjaers om by die vlieënde Hollander te bly.

Moet ook nie dink dat hy die skuif na Ferrari gemaak het omdat hy bang is dat sy droom van ʼn agtste wêreldtitel skipbreuk saam met Mercedes sal ly nie.

“Ek sê dit weer – ek glo eerlikwaar dat Mercedes nog ʼn kampioenskap gaan wen. Dit is ʼn ongelooflike groep mense wat soos ʼn goed geoliede masjien saamwerk. Maar dit is tyd vir ʼn nuwe hoofstuk in my loopbaan en ek voel dat ek alles gedoen het wat ek kon saam met die span.”

George Russell het intussen erken dat daar ʼn interessante tyd op Mercedes wag, maar hy hou duim vas dat sy nuwe spanmaat hom ook sal aanspoor om sy beste op die renbaan te gee.

“Ek dink dit is belangrik vir enige span dat sy renjaers goed saamwerk; want dit het dan ook ʼn invloed op die ingenieurs en uiteindelik die hele span. Tog lê die finale besluit by Toto (Wolff) en die bestuurspan,” het die 26-jarige Engelsman gesê.

Volgens Russell is daar definitiewe belangstelling om Hamilton se Mercedes-skoene vol te staan.

“Daar was reeds baie gesprekke agter die skerms en ek het ook al baie met Toto gesels. Dit is met tye nogal snaaks om te sien wie die belangstellendes is wat vir hom boodskappe stuur en bel. My eie selfoon het ook al ʼn paar keer gelui.”

Die wedrenaksie word hierdie naweek in Australië hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Lewis Hamilton se beste dae is verby en dit sal wensdenkery van sy kant wees as hy dink hy kan Verstappen nog klop.

KB ·

Hy lyk al soos ʼn slaansak van ʼn nat koerant. Sy kop raas lankal.
” ʼn Ware sportman weet wanneer om op te hou” – ou Lewis, jy het geen waardigheid nie. Jy is (en was) nog altyd ʼn bespotting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.