Lewis se spoglopie kan in slag bly

Lewis Hamilton. Foto: Andrej Isakovic/AFP.

Die afgelope Grand Prix in Austin was waarskynlik Lewis Hamilton se beste kans om vanjaar ʼn wedren te wen.

Die sewemalige wêreldkampioen het vir ʼn ruk die voortou geneem, maar Max Verstappen het – ondanks ʼn rampspoedige besoek van 11 sekondes aan die kuipe – steeds hopeloos te veel skietgoed in sy Red Bull gehad.

Die jong Nederlander geniet tans ʼn yslike voorsprong van 193 punte bó Hamilton op die jaerspunteleer en boonop kan een van die Brit se goeie lopies binnekort tot ʼn einde kom.

Hamilton spog met die unieke rekord dat hy sedert sy F1-buiging in 2007 nog elke jaar ten minste een wedren gewen het, maar dit lyk nie of die geskiedenis homself weer gaan herhaal nie.

“Ons moet realisties na dinge kyk. Red Bull was nog die hele jaar die vinnigste en dit lyk nie of dinge sommer gaan verander nie,” het die voormalige wêreldkampioen gesê.

Volgens Hamilton verdien Mercedes ʼn pluimpie vir hul veggees, maar hulle het tans geen antwoord op Verstappen en kie se vaart nie.

“Tensy daar ʼn drastiese verandering is, twyfel ek of ons vanjaar by hulle sal kan kers vashou. Die feit dat Max ons ná daardie kuipstop kon inhaal, dui op die ongelooflike spoed waaroor Red Bull beskik.”

Hy is egter optimisties oor Mercedes se kanse in 2023.

“Ons het vanjaar al die nodige foute gemaak om ʼn sterker grondslag vir volgende jaar te bou. Indien alles volgens plan verloop, behoort die nuwe seisoen ʼn baie opwindende een te wees.”

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen 391 punte
  2. Charles Leclerc 267 punte
  3. Sergio Perez 265 punte
  4. George Russell 218 punte
  5. Carlos Sainz 202 punte
  6. Lewis Hamilton 198 punte
  7. Lando Norris 109 punte
  8. Esteban Ocon 78 punte
  9. Fernando Alonso 71 punte
  10. Valtteri Bottas 46 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull 656 punte
  2. Ferrari 469 punte
  3. Mercedes 416 punte
  4. Alpine 144 punte
  5. McLaren 138 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peter ·

Verstappen sou in elke geval baie verder voor H klaargemaak het indien die pitstop nie ontplof het nie, So dis nie n geval van H wat hom gevang het nie, MV hethom binne n paar rondtes met n agetrstand van about 3.45 sek inkatrol, die die realiteit hamilton. Hy kan bly wees hy het nie 2e geeindig en nie verder terug nie

Groen Ghoen ·

Die spanleier, tegniese bestuurder en die renjaer bepaal sukses: Dink aan Todt, Brawn, Byrne (van S.A.) en Schumacher toe Ferrari lank bobaas was. In Mercedes eis Hamilton al die roem net vir homself op. Hy vloek op sy span wanneer dinge skeefloop, lieg skaamteloos (Dink aan sy Mclaren dae), speel die rassekaart sonder ophou. Mag die wiel letterlik en figuurlik vir hierdie arrogante man gedraai het.

Windhond ·

Ekt maar nie enige ooghare vir die Hamilton kaboutertjie nie – hy is so vol van homself

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.