Lewis soek Suid-Afrika op F1-kalender

Lewis Hamilton. Foto: Ozan Kose/AFP.

F1 het laas in 1993 ’n draai in Suid-Afrika gemaak toe die Fransman Alain Prost koning op Kyalami gekraai het. Die legendariese Ayrton Senna het toe tweede klaargemaak, gevolg deur Mark Blundell.

Nou wil Lewis Hamilton hê dat die aksie sy pad terug na Afrika moet vind.

In die volgende paar seisoene sal die renmotors se enjins weer in Sjina, Las Vegas en Katar brul, terwyl Afrika die enigste vasteland sonder ’n F1-wedren is.

“Dit is belangrik dat die sport ook daar ’n draai maak. As ons dan in elke ander kontinent jaag, waarom dan nie ook in Afrika nie?” het die sewemalige wêreldkampioen in ’n onderhoud met ESPN gevra.

“Die een waarna ek rêrig uitsien, is in Suid-Afrika; dit is die een wedren wat ek graag volgende op die wedrenkalender wil sien.”

Volgens Hamilton is sy voorouers van hier af en ’n Afrika-wedren lê hom na aan die hart.

“Ek dink dat F1 ’n gewilde sportsoort in Suid-Afrika is en dit sal ’n wonderlike manier wees om die natuurskoon van die vaderland te onderstreep.”

Die 37-jarige Mercedes-renjaer is tans vyfde op die jaerspunteleer met sy 28 punte nadat hy onderskeidelik derde, tiende en vierde in vanjaar se drie wedrenne klaargemaak het.

Hy is 43 punte agter Ferrari se Charles Leclerc en nege punte agter George Russell in die ander Mercedes.

Die stand van sake beteken dat Hamilton – volgens Mika Hakkinen – dalk onderlangs na ’n paar ander spanne begin loer.

“Die aanloop tot die seisoen moet ’n ramp vir iemand soos Lewis wees. En die feit dat George bó hom op die punteleer is, maak dinge natuurlik erger.”

Volgens die voormalige Finse wêreldkampioen is dit dan normaal vir enige renjaer om oor ’n moontlike toekoms by ander spanne te begin wonder.

“Dit is maar hoe dinge is. Hy is al jare lank by Mercedes en het gereeld titels gewen. Noudat dinge minder goed verloop, kan hy aan ’n toekoms by ander spanne begin dink.”

Tog is Hamilton een van die beste jaers in die sport se geskiedenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Emile

Dit sal goed wees om F1 weer terug te bring RSA toe maar om vir Lewis Hamilton hier te sien is iets waarvoor ek verseker nie sal uitsien nie

Herman

Ek hoop hy betaal ook vir die bou van die baan, of die opgradering van Kyalami. Dis baie geld.

piet

Baie van hierdie renjaers sal dit wil he want hulle het nog nie in SA gejaag nie. Goeie PR vir SA Motorsport. Maak dit sommer ‘n straatren in Kaapstad, die elektriese Grand Prix kom ook Kaapstad toe.

Steyn

Dis die enigste sport wat ek kyk, politiek het min te doen met die talente van die drywers. Essere Ferrari!

Natasha

Wel danksy ons onbevoegde regering wat net 50% kapasiteit toe laat en hulle belaglik “gesondheidsbeleid” stel ek voor hulle probeer nie eens nie.