Liverpool-ster skenk R850 000 om virus te beveg

Liverpool se Sadio Mane. Foto: ANA.

Liverpool se Sadio Mane het ’n skenking van £42 000 (R849 709) gemaak om Covid-19 in sy geboorteland te beveg.

Die 27-jarige Senegal-ster het in ’n boodskap aan sy landgenote gesê dat hulle hul hande so gereeld as moontlik vir ten minste 30 sekondes moet was.

Mane is bekend vir sy liefdadigheid en hy het al onder andere R4,3 miljoen geskenk vir die bou van ’n hoërskool in sy tuisdorp Banbali, terwyl hy ook geld beskikbaar gestel het vir die ontwikkeling van ’n stadion en ’n hospitaal.

Volgens sy agent het die Liverpool-speler die skenking spontaan gedoen toe hy sien hoe die situasie verander het.

Dan het Manchester United se Paul Pogba ook ’n fondsinsamelingsblad geskep om kinders te help wat deur die koronavirus geraak word.

Manchester United se Paul Pogba. (Martin Rickett/PA via AP).

Die Fransman het Sondag sy 27ste verjaardag gevier en hy het £27 000 beloof in die oorlog teen Covid-19. Hy het egter gesê dat hy die bedrag sal verdubbel indien die teiken bereik word.

“Die impak wat die pandemie op arm kinders het, kan katastrofies wees. Dit is my verjaardag en ek is altyd dankbaar dat ek, my familie en vriende gesond is. Tog geniet almal nie nou goeie gesondheid nie en dit is in tye soos hierdie wat ons moet saamstaan,” het Pogba geskryf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.