Lloyd Harris speel seker Danie Botha se “Wenners”-treffer voordat hy op die baan stap; want hy is beslis ’n wenner.
Die 24-jarige Suid-Afrikaner het gister in Dubai sy droombegin tot die jaar voortgesit toe hy vir Kei Nishikori met 6-1, 3-6 en 6-3 in die kwarteindstryd getroef het.
Harris se afslane het weer eens sy teenstander op die agtervoet geplaas en hy het 14 kishoue afgevuur teenoor die Japanner se enkele kishou.
Hy kom in die halfeindstryd teen die derde gekeurde Kanadees, Denis Shapovalov, te staan.
“Ek het nou al lekker selfvertroue in die ATP-toernooie opgebou, maar Denis is ’n dinamiese speler en dit sal ongetwyfeld ’n taai wedstryd wees,” het Harris gesê.
Die jong Suid-Afrikaner het vroeër met Dominic Thiem in die eerste ronde van die Dubaise toernooi afgereken en hy sal na verwagting binnekort onder die voorste 70 spelers ter wêreld tel.
“Ek is supertevrede met my spel; Dominic is verreweg die beste speler wat ek nog gewen het. Ek sien op na iemand soos hy en dit maak vandag net nog meer spesiaal,” het Harris ná die Thiem-stryd gesê.
Maar hoewel dit sy eerste oorwinning was teen iemand wat onder die voorste vyf spelers ter wêreld tel, was dit hoegenaamd nie ’n vloekskoot nie.
Die Suid-Afrikaner het al vantevore ’n stel of twee teen topgekeurde spelers – onder wie Roger Federer – gewen, maar hy kon nooit die uitklophou plant nie.
Dit lyk egter asof dinge begin verander het toe hy met Stan Wawrinka in Katar afgereken het. ’n Paar agtereenvolgende seges teen die wêreld se bestes is beslis nie te versmaai nie.
“Die feit dat ek deesdae goeie tennis – wedstryd ná wedstryd – kan speel, sorg beslis vir baie selfvertroue.”
Die halfeindstryd word later vandag beslis.
Magic! @lloydharris63 becomes the first qualifier ever to reach the semi-finals of the Dubai Duty Free Tennis Championships. @atptour #DDFTennis pic.twitter.com/wAuTJrX3O1
— Dubai Tennis Champs (@DDFTennis) March 18, 2021
Baie trots op hom. Hou so aan