Lloyd maak nog ranglysspronge

Suid-Afrika se Lloyd Harris. Foto: Twitter.

Volgens die jongste ATP-ranglys is Suid-Afrika se Lloyd Harris nou die 46ste beste speler ter wêreld.

Die 24-jarige Kapenaar ervaar vanjaar ’n droomlopie op die tennisbaan en hy het reeds met Stan Wawrinka, Dominic Thiem, Kei Nishikori, Denis Shapovalov, Grigor Dimitrov, Gaël Monfils en Rafael Nadal afgereken.

Harris het vir Nadal in die Citi-Ope uitgeskakel en die legendariese Spaanse speler het respek vir sy vurige afslane.

“Ek het teen iemand kragte gemeet wat baie goeie tennis gespeel het. Ek dink wel dat ek nou beter as in my vorige wedstryd gespeel het, maar sy afslane was só goed,” het die wenner van 20 Grand Slam-titels ná die wedstryd gesê.

Kevin Anderson is 76ste op die ranglys en die voormalige wêreldno. 5-speler speel vandag teen Rusland se Karen Khachanov in die Cincinnati-meesterstoernooi.

Oudergewoonte is Novak Djokovic boaan die ranglys, gevolg deur Daniil Medvedev en Stefanos Tsitsipas. Rafael Nadal is die vierde beste speler ter wêreld, terwyl die 40-jarige Roger Federer negende is.

Die Switserse meester het egter onlangs aangedui dat hy nóg ’n knie-operasie sal moet ondergaan.

“Ek sal vir weke met behulp van krukke moet rondbeweeg, terwyl ek vir maande nie ’n tenniswedstryd sal kan speel nie,” het Federer in ’n plasing op sosiale media gesê.

“Dit is ’n moeilike tyd wat voorlê, maar terselfdertyd weet ek dat dit die regte ding is om te doen, want ek wil fiks en gesond wees. Dan wil ek ook vir myself ’n tikkie hoop gee om weer ’n terugkeer tot die sport te maak.”

  • ATP-ranglys:
  1. Novak Djokovic
  2. Daniil Medvedev
  3. Stefanos Tsitsipas
  4. Rafael Nadal
  5. Alexander Zverev
  6. Dominic Thiem
  7. Andrey Rublev
  8. Matteo Berrettini
  9. Roger Federer
  10. Denis Shapovalov

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.